
Die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye oorweeg om ’n private ledevoorstel in te dien om wetlike beskerming van landbougrond teen mynbou- en ander nie-landbougerigte ontwikkeling te bespoedig.
Hoewel wetsontwerpe deur regeringsdepartemente onder leiding van die minister en adjunkminister opgestel en ná goedkeuring deur die Kabinet na die Parlement gebring kan word, kan LP’s individueel ook wetsontwerpe indien. Daardie wetsontwerpe word private ledevoorstelle genoem.
In September is die tweede weergawe van die Wetsontwerp op die Behoud en Ontwikkeling van Landbougrond in die Staatskoerant vir kommentaar gepubliseer. Die wetsontwerp is tans by die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac).
Moet landbougrond beskerm
“Daar is ’n behoefte dat landbougrond beskerm moet word. As ons tyd vermors, gaan van die beste landbougrond deur mynbou en ander ontwikkelings afgevat word,” sê mnr. Patrick Maloyi, ANC-sweep van die Nasionale Vergadering.
Hy sê die mynbou in Mpumalanga het só toegeneem dat boere nou na die Oos-Kaap uitwyk. Maar selfs húl planne kan vergeefs wees weens die uraan-eksplorasie in dié provinsie.
“As ons nie met die nodige spoed beweeg nie, sal ons net meer en meer grond verloor.” Maloyi sê die portefeuljekomitee verneem die wetsontwerp is by Nedlac. Hulle het besluit indien Nedlac nie sy werk spoedig kan afhandel nie, sal die komitee sy eie private ledevoorstel moet indien.
Maloyi het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gevra om die wet na die komitee te bring indien Nedlac dit nie in die eerste kwartaal van volgende jaar na die Nasionale Vergadering bring nie.