
Geen getalm blyk langer geduld word om weer eens die proses vir die heroopstel van grondeise te laat geskied nie – die ANC se sweep van die portefeuljekomitee van landelike ontwikkeling en grondhervorming wil nou self die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte na die Parlement bring.
Mnr. Justice Mnguni, ANC-LP, het ’n private ledevoorstel rakende die wysigingswetsontwerp by die Parlement ingedien. Daarin vra hy dat die afsnydatum vir die indien van nuwe grondeise tot 30 Junie 2021 uitgestel word.
Die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte, wat die eisproses in 2014 vir ’n tydperk van vyf jaar tot 30 Junie 2019 heroopgestel het, is op 28 Julie 2016 deur die Grondwethof ongeldig verklaar. Dit was omdat die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) versuim het om behoorlike openbare verhore te hou in sy haas om die wetgewing vóór die 2014-verkiesing af te handel. Altesaam 24 maande is deur dié hof toegestaan sodat die proses reggestel kan word.
Nege maande gelede
Ná sowat nege maande sedert die hofuitspraak het die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming nog nie die wysigingswetsontwerp na die portefeuljekomitee geneem sodat dit geskaaf en na die gekose komitee vir grond en minerale hulpbronne by die NRP ingedien kan word, sodat die proses van openbare verhore weer aan die gang gesit kan word.
Mnguni se ledevoorstel maak dit nou moontlik dat die proses weer op dreef kan kom. Hy stel voor dat:
* Geen nuwe eise verwerk moet word totdat ál die eise wat teen einde 31 Desember 1998 ingestel was, eers gefinaliseer is nie.
* Besonderhede van ’n eis moet gesirkuleer word in die nasionale media en in provinsiale media waar die grond geleë is.
* Die Grondeisekommissie moet verseker dat eise wat teen Desember 1998 ingestel is, gefinaliseer is voordat enige nuwe eise begin verwerk word.
* Die kommissie moet ’n register saamstel waarin eise gedokumenteer word en dit móét oop vir die publiek wees.
* Die tydperk vir die heroopstel van eise moet verleng word.
* Die Grondeisekommissaris moet skriftelik sertifiseer dat alle eise wat voor einde Desember 1998 ingestel was, gefinaliseer is en moet dan die aanvangsdatum vir die verwerking van die nuwe eise in die Staatskoerant publiseer.
* Wysigings is nodig om twee bykomende strafregtelike oortredings in die wetgewing te voeg vir gevalle waar voornemende eisers mislei of verhoed word om eise in te dien en wanneer bedrieglike eise ingestel word.
Aanstellings en voorwaardes
Voorsiening is ook gemaak vir wysigings rakende die regulering van aanstellings en voorwaardes van die dienste wat regters van die hof vir grondeise moet lewer.
Hoewel die hofbeslissing meegebring het dat die indien van nuwe grondeiseproses nie kan voortgaan totdat die Parlement sy werk voldoende gedoen het nie, is die nuwe eise wat die kommissie vanaf 1 Julie 2014 tot die ongeldigverklaring van die proses op 27 Julie 2016 ontvang het, nie as ongeldig verklaar nie.
Altesaam 161 052 nuwe eise
Geouditeerde syfers van die kommissie dui aan dat altesaam 161 052 nuwe eise teen 13 Julie 2016 ingedien is. Hierdie geldige eise is deur 93 339 vroue en 67 713 mans ingedien.
Altesaam 146 397 eise is deur swart mense ingedien, 14 016 bruin-, 451 Indiër, 139 wit mense en 49 deur eisers wat as “ander” geklassifiseer word.
Die totale getal eise wat voor die ongeldigverklaring ingedien is en wat nog ge-oudit moet word, is 166 560.