
Prof. William Gumede,
politieke ontleder van die Universiteit van Witwatersrand se skool vir
regeerkunde, sê dis hoogs waarskynlik dat Suid-Afrika ’n fase van
koalisiepolitiek tegemoet gaan.
“Pres. Cyril Ramaphosa sal waarskynlik in Desember herverkies word tot die ANC se president, maar ek meen hy gaan nie sy termyn as president in 2024 voortsit nie. Ek dink ons kan regmaak vir ’n koalisie, soos wat ons onlangs in Durban gesien het, waar die ANC moes hande vat met ’n kleiner party,” het Gumede tydens Hortgro se tegniese simposium op Somerset-Wes gesê.
Hy meen dis nie noodwendig ’n slegte ding nie, want twee van die suksesvolste lande in Afrika – Mauritius en Botswana – word al jare lank deur koalisies regeer.
“Tans is dit dieselfde mense wat van 1994 af Suid-Afrika bestuur. Ons is in ’n ruimte waar nuwe idees, energie en hoop eintlik net ontsluit kan word as die ANC nie meer daar is nie,” het hy gesê nadat hy verduidelik het hoe nou vervleg die Eskom-krisis met die ANC is.
Volgens hom kan die ANC se ondersteuning aan Rusland die laaste strooi wees vir baie kiesers wat klippe kou weens die hoë energie- en kospryse, wat ’n gevolg is van die konflik in Oekraïne.
“Hoewel daar voorbeelde van skouspelagtige verval van koalisieregerings op plaaslike vlak, soos Johannesburg is, toon verslae dat dié tipe regerings in die meeste dorpe in Suid-Afrika werklik suksesvol is.”
Tussen nou en Desember sal die ANC se aandag by sy verkiesingskonferensie aan die einde van die jaar wees, met min klem op regeringsake, meen Gumede. “Ons kan verwag dat baie min hervorming en beleidsveranderinge vanjaar gaan plaasvind.”
Hy het bedrywe soos die landbou en mynbou aangeraai om hul eie planne gereed te kry.
“Belanghebbendes moet saamkom en hul eie planne vir hul bedrywe maak en dit in werking stel. As die regering dit aanvaar, is dit so. As hy dit nie aanvaar nie, is dit ook so.”