
Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder vir energie, sê in die 1980’s toe elektrisiteit volop was en die destydse Evkom in infrastruktuur belê het, is die landbou grootliks geëlektrifiseer.
“Nuwe moontlikhede, soos die grootskaalse grootmaak van braaihoenders, duisende hektaar onder spilpuntbesproeiing, die uitbreiding van vrugteboorde en klimaatbeheerde kweekhuisproduksie kenmerk die Suid-Afrikaanse landbou sedertdien.
“Sonder elektrisiteit is besproeiing beperk tot vloedbesproeiing. Dit stel minder grond beskikbaar, dit moet stroomaf van 'n dam of kanaal wees en vermors water, terwyl grondgehalte vinnig afneem.”
Hy sê produksiesiklusse is op die kortste ses weke, maar meer dikwels maande of selfs jare.
“Braaihoenders of groente wat tydens die afgelope twee weke se kragonderbrekings gevrek het, gaan oor etlike weke nie beskikbaar wees nie.
“Aartappels, mielies en sekere vrugte sal oor ’n aantal maande afwesig wees, terwyl vrugteboorde eers volgende seisoen weer produksie kan lewer, of selfs oorgeplant moet word.”
Hierdie situasie sal dit volgens hom vir miljoene arm Suid-Afrikaners onmoontlik maak om voedsame kos te koop. “Boerdery-ondernemings wat in die slag bly, is nog ’n slag vir ’n sektor wat reeds deur ander probleme in die gesig gestaar word.”
Hy meen die georganiseerde landbou se pogings om beurtkrag by die landbousiklus te laat aanpas, het tot dusver nie die gewenste reaksie gehad nie. “Die VF Plus herhaal sy oproep dat die elektrisiteitmark oopgestel moet word. Indien ondernemings, insluitend in die landbou, krag vir hulself kan opwek en oorskotte kan verkoop, kan hulle tot oplossings van die krisis bydra.
“Son- en windkrag op plase is opvallende moontlikhede. Groter ondernemings kan ook geleenthede in die waterstofekonomie ondersoek, terwyl kleinskaalse modulêre kernkrageenhede stabiliteit kan verskaf.
“Die voorwaarde vir hierdie moontlikhede om kragvoorsiening oor die land heen te versprei, druk op die netwerk te verlig en beurtkrag te beëindig, is egter 'n vrye energiemark. Regulering moet tot veiligheids- en tegniese aspekte beperk word.
“Tans is die sentralistiese ANC-regering nie tot so ’n stap bereid nie. Terwyl planne intussen beraam moet word, is die sekerste langtermynoplossing om die ANC in 2024 uit te stem.”
Wat is die departement van landbou se plan?
Mnr. Noko Masipa, DA-LP en skaduminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê die party het die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling skriftelik versoek om ’n voorlegging te doen oor die maatreëls wat toegepas word om die landbousektor teen die impak van beurtkrag te beskerm.
“Eskom moet uitsluitingsmaatreëls toepas wat boere toelaat om hul produksiesiklus te voltooi. Die DA steun boere se versoek dat die regering dringend moet intree en verligting aan hoenderboere, verkoelingsaanlegte en besproeiingskemas moet voorsien. Dit is onaanvaarbaar dat die departement tot nou toe nie ’n plan gemaak het om die impak van beurtkrag op die landbousektor te bestuur nie.
“Boere het reeds om hulp gevra en dit is belangrik dat die parlement intree en leierskap gedurende hierdie ontluikende krisis voorsien. Dit is tyd dat Eskom en me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Suid-Afrika moet inlig oor hul planne om ’n moontlike voedselkrisis te vermy.”
Klein ondernemings benodig steun
Mnr. Francois Baird, stigter van die FairPlay-beweging, sê daar moet maniere gevind word om klein boerderyondernemings, wat ’n belangrike komponent van Suid-Afrika se voedselsekerheid en werkskepping vorm, te steun.
“Klein ondernemings het nie dieselfde finansiële bronne as groot kommersiële produsente nie en is die afgelope paar jaar heelwat kishoue toegedien – eers weens covid-19, toe die stygende koste van kunsmis, brandstof en voer weens die oorlog in Oekraïne en nou beurtkrag wat produksie onderbreek.
“Groot en klein produsente word ook hard getref deur die agteruitgang van vervoerinfrastruktuur, wat die aflewering van landbou-insette en -produkte vertraag.”
Nou word ’n bykans 19%-verhoging in kragpryse by dié lys probleme gevoeg. Nersa het dié reuse-prysverhoging verlede week goedgekeur. Verskeie organisasies het regstappe teen die verhoging gedoen.
“Terwyl die prokureurs stry, ly klein ondernemings. Baie sal dit waarskynlik nie maak nie en werksgeleenthede, vaardighede en toegang tot bekostigbare voedsel vir arm mense in landelike gebiede, sal verlore gaan.
“Beurtkrag kniehalter klein ondernemings en die verhoging in kragpryse sal hulle verlam. Die regering kan nie toekyk terwyl dit gebeur nie.”