
Die ANC-regering sloer opsetlik met grondhervorming sodat pres. Jacob Zuma kan rondgaan en aan mense sê hulle kan nie die grond kry nie, want die witmense het dit gesteel en dit moet nou eers sonder vergoeding onteien word.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het hierdie prentjie geskets toe die begroting van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming by die Parlement gedebatteer is. Volgens hom is die feit dat in byna 20 jaar sedert dié proses begin is, eise wat teen einde 1998 ingedien was, nog steeds nie afgehandel is nie.
Volgens me. Nomfundo Gobodo, hoof-grondeisekommissaris, is altesaam 6 989 eise nog uitstaande van die sowat 80 000 wat ingedien is. Siende dat heelwat eise voor die hof gedaag is, het die Parlement se portefeuljekomitee vir justisie onlangs aanbeveel dat die grondeenheid by die Suid-Afrikaanse Regshulpraad weer ingestel moet word sodat die hof gouer dispute rondom grondeise kan aanhoor.
Politieke speletjies oor grond
Groenewald sê die politieke speletjies rakende grond is gevaarlik want dit plaas voedselsekerheid en -sekuriteit op die spel. “Dit is maklik om te sê wittes besit 80% van grond in Suid-Afrika. Die minister moet sê of dit waar is.”
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het in sy begrotingsdebat aangedui dat die grootste vraag waarmee steeds geworstel word, is wie Suid-Afrika besit.
Toe die grondoudit gedoen was, is besef dat die grondoudit nie 100% voltooi kan wees indien die ras, geslag en nasionaliteit van grondeienaars nie ingesluit word nie. Die uitdaging wat die departement in die gesig staar het was dat die aktekantoor sedert die demokratiese bestel nie vir ras voorsiening maak nie. Hierdie proses is nou voltooi, het Nkwinti gesê. Maar daar ontbreek steeds inligting rakende grond wat deur instellings soos trusts, private- en openbare organisasies en maatskappye, asook deeltitel besit.
Tweede fase
Die departement hoop om binnekort die tweede fase van sy grondoudit, wat handel oor private grondbesit, voor die Kabinet te bring waarna dit bekendgemaak sal word.
Volgens die grondoudit besit die staat sowat 26 miljoen hektaar (22%) en 96 miljoen hektaar (78%) is in private hande.
Groenewald het aangedui dat hy sedert 2004 vir ’n oudit oor grondbesit aangevra het. “In 2015 het die ANC in sy eie beleidsdokumente gesê die tweede fase van die oudit sal beskikbaar wees teen September 2015. Hierdie tweede fase is baie belangrik, want dit sal die ras en geslag van grondeienaars aantoon.
Maak dit bekend
“Nou is ons reeds in 2017. Waarom word dit nie bekend gemaak nie? Waarom neem dit so lank om die oudit te finaliseer? Die antwoord is dat dit die ANC pas. Die regering kan nou aan mense sê die beloftes wat oor grond gemaak is, sal nagekom word sodra die struikelblokke uit die weg geruim is.
Groenewald wou ook weet waarom die staat nie die titelaktes aan mense oordra wat reeds grond gekry het nie.
“Tot nou toe is net een uit elke tien titelaktes van grond wat deur grondhervorming oorgedra is, aan die nuwe eienaars oorhandig. Negentig persent van die titelaktes is by die Regering. Die staat besit die grond.
“Waarom dra die Regering nie die titelaktes aan die nuwe eienaars oor nie? Dit word nie gedoen nie omdat dit die ANC se politieke agenda pas,” meen Groenewald.