
Hierdie stryd sal aangesê word via die grondwetlike hersieningskomitee wat gaan kyk hoe die Grondwet gewysig kan word vir die onteiening van grond sonder vergoeding.
Dié belofte is deur mnr. Patrick Chauke, ’n gesoute ANC-LP, gemaak toe ’n debat oor die droogte wat die Wes-Kaap en Suid-Afrika steeds in ’n wurggreep het, by die Parlement gehou is.
Dit is bekend dat Suid-Afrika altesaam 5 125 damme op sy aantekeningstelsel geregistreer het. Daarvan besit die landbou 4 030 damme, die Departement van Water en Sanitasie besit 323 damme, 66 damme behoort aan ander regeringsdepartemente, 318 behoort aan munisipaliteite en 336 word deur mynbou en nywerhede besit. Daar is ook damme wat as “ander” geklassifiseer is, soos balanseerdamme.
Aan wie behoort die water?
Chauke het verlede jaar reeds begin uitlig dat die grondkwessie en die waterkwessie nie geskei kan word nie. “Die stryd om die grond kan nie van die stryd om water geskei word nie.”
Hy het aangedui dat wanneer swart boere deur grondhervormingsprogramme plase kry, die vorige eienaar die waterregte besit en verhandel, wat sal meebring dat die nuwe boere sonder water sit.
Chauke het gesê die EFF sal genader word om te help verseker dat alle water in Suid-Afrika in die toekoms onder die staat ingelyf word.
Uit Chauke se uitlatings blyk dit dat mnr. Gugile Nkwinti, die voormalige minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, as Minister van Water en Sanitasie aangestel is om toe te sien dat – nes met grond – pogings aangewend moet word om water onder die beheer van die staat te kry.
Intussen het Suid-Afrika nog nie ’n meesterplan vir water wat hom moet lei om droogtesituasies en watertekorte te hanteer nie. Die Departement van Water en Sanitasie het verlede jaar aangedui dat hy beoog om dit teen Maart vanjaar gereed te hê.