
Boere, die regstelsel en selfs die polisie manipuleer die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Esta), om plaaswerkers en -bewoners van plase te verjaag, sê die ANC in die Wes-Kaap.
Dié provinsiale tak wil hê dat mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, ‘n moratorium op die uitsetting van plaaswerkers instel om die onbedoelde gevolge te keer van sy voorstel dat boere 50% van hulle grond aan hul werkers moet gee.
Mnr. Songezo Mjongile, provinsiale sekretaris, sê die afgelope naweek in die Rawsonville-gebied is 'n gestremde vrou en haar kinders met ál hul eiendom gekry wat langs die pad gelos is. Dit is van die onmenslike aksies van sommige boere, het hy gesê.
'n Formele versoek sal ook aan die Regering gerig word vir 'n beraad om die werk van voormalige adj.pres. Kgalema Motlanthe voort te sit, waar met plaaswerkers en landbou-organisasies vergader is om oplossings te vind.
Mnr. Marius Fransman, Wes-Kaapse ANC-leier, het sy misnoeë uitgespreek met die nasionale Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming wat die beskerming van plaaswerkers die afgelope agt jaar aan ’n regsfirma uitkontrakteer.
Die probleem hiermee is dat 'n plaasuitsetting plaasvind en die regsfirma stel die plaaslike prokureur op die dorp aan. “Ons het bevind dat meeste van die prokureurs op die klein dorpies dié mense is wat gereeld saam met boere kuier, en van hulle besit ook plase.”
Hoewel die tak nie syfers kon gee oor hoeveel werkers die afgelope ruk onwettig van plase afgesit is nie, het hulle wel gebiede en voorbeelde genoem waar onwettige uitsettings plaasgevind en hulle ingegryp het.