
Weerstand teen antibiotika en risiko’s daaraan verbonde in mense en diere is vandag net so ’n uitdaging vir die mensdom soos klimaatsverandering. “Daarom is dit belangrik dat antibiotika soveel as nodig, maar so min as moontlik, gebruik word,” het prof. Moritz van Vuuren van die Universiteit van Pretoria tydens ’n konferensie van die Rooivleis-Abattiorvereniging (RVAV) naby Stellenbosch gesê.
’n Globale aksieplan daarvoor is van stapel gestuur, en Suid-Afrika is deel daarvan.
Weerstand teen antibiotika ontstaan wanneer of te veel of te min daarvan gebruik word. “Antibiotika is die ‘slagoffer’ van sy eie sukses.” Sedert die ontwikkeling daarvan, is ál meer gebruik en dit het goedkoper geword. Die laaste antibiotika-tipe wat ontwikkel is, was in 1987, want die klem het geskuif na ander tipes noodsaaklike medikasies soos bloeddrukmiddels.
Kan nie net onttrek word nie
“Antibiotika’s kan egter nie sondermeer van gebruik vir diere- en mensegesondheid onttrek word nie. Dit sal voedselsekuriteit en -veiligheid ernstig in gedrang bring.”
Van Vuuren het gesê die antwoord lê by die korrekte gebruik daarvan, en om die middels betyds te staak ná behandeling. Dit is vandag oneties vir veeartse om antibiotika sondermeer op groot skaal voor te skryf. Tog sal boere altyd toegang daartoe hê vir hul dieregesondheid, maar dit moet tot die minimum beperk word.
Verantwoordelike gedragspraktyke moet deur veeartse toegepas word om so min moontlik antibiotika te gebruik om weerstand daarteen tot die minimum te beperk, het hy gewaarsku.