
Die twee plaasaanvalle in minder as ’n week in Mpumalanga bewys dat landelike veiligheid nie ’n prioriteit vir Mpumalanga se polisie of plaaslike regering is nie, sê mnr. Werner Weber, leier van die VF Plus in Mpumalanga.
Op 11 Vrydag Maart is drie vroue – me. Ansie Nel, haar 84-jarige ma, me. Miemie du Toit, en me. Sophie Mpila – deur vyf verdagtes op ’n plaas by Mara naby Mbombela vasgebind en gemartel. Op Sondag 20 Maart het ses verdagtes mnr. Gustav Rappard (76) verwurg en sy vrou, Elma, vasgebind op hul plaas buite Delmas.
Weber sê dit is duidelik dat die ANC-regering in Mpumalanga nie oor die politieke wil beskik om hierdie soort misdaad hok te slaan en landelike veiligheid ’n prioriteit te maak nie.
“Die VF Plus het die wetgewer se portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid versoek om die LUR vir gemeenskapsveiligheid, mnr. Vusi Shongwe, en die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, voor die komitee te daag om oor die aangeleentheid verslag te doen.
“Hulle moet antwoorde gee oor die inwerkingstelling van die landelike veiligheidsplan in Mpumalanga en die kritieke tekort aan polisiehulpbronne, soos voertuie, wat die polisie verhinder om sy werk na behore te verrig.”
Hy sê hoewel dit die polisie se plig is om die landelike veiligheidsplan in werking te stel, moet die LUR as politieke hoof die toepassing daarvan monitor.
“Die VF Plus doen opnuut ’n ernstige beroep op landelike gemeenskappe om hul persoonlike veiligheidsmaatreëls op te skerp. Dit kan gedoen word deur aan te sluit by die plaaslike plaaswagte en gemeenskappolisiëringsforums en om nie hul waaksaamheid te verslap en onbekendes sonder meer te vertrou nie.”