Die noordelike deel van die Apiesrivier en die Rooiwal-rioolaanleg is weens besoedeling tot rampgebied verklaar, sê AfriForum.
Luidens ’n verklaring het die Departement van Waterwese dié besluit onlangs op ’n vergadering geneem.
Die departement het die Tshwane-metroraad ook opdrag gegee om dringend stappe te doen om die situasie in die rivier op te los. Mnr. Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, sê: “AfriForum bedank die Departement van Waterwese vir sy ingryping in hierdie saak. Dit is ’n stap wat hoop bied vir die toekoms.”
Die probleem
Die probleme by die aanleg word grootliks aan gebrekkige beplanning en bestuur toegeskryf. Die organisasie sê in die algemeen lei toenemende eiendomsontwikkeling en ’n gebrek aan behoorlike bestuur tot die storting van riool in die land se riviere.
Baie munisipaliteite is ook traag om hul rioolaanlegte in stand te hou. Dit kan deels aan korrupsie toegeskryf word.
Volgens Kleynhans is R11 miljoen onmiddellik beskikbaar gestel vir die opgradering van die rioolaanleg. Hy sê hulle is ook dankbaar vir die samewerking wat hulle tot dusver van mnr. Jason Ngobeni, nuwe munisipale bestuurder van die metroraad, ontvang het.
Boere se skade?
Volgens mnr. Louis Meintjies, voorsitter van die TLU SA, is hulle dankbaar dat iets uiteindelik aan die probleem gedoen word. “Talle boere kan glad nie met daardie water besproei nie. Soms, as ’n mens onderdeur sproeiers ry, is daar bloedwurms op jou voorruit. Van die boere sê selfs die likkewane wil nie meer in dié rivier ingaan nie.”
Meintjies sê boere is bekommerd oor die skade wat hulle ly. Dié skade is nie beperk tot die vuil water waarmee gewasse besproei word nie. Die parasiete wat in dié water voorkom, beland in die grond. “Dis nie net skade bo die grond nie. Hoe vergoed jy ’n boer wie se grond besmet is? Van daardie parasiete kan jare in die grond oorleef.”
Probleme met rioolaanlegte in die Tshwane-gebied is ’n gereelde verskynsel. Meintjies sê die enigste aanleg wat behoorlik werk, is die Seekoeigat-aanleg by die Roodeplaatdam.
Kriminele sake
Intussen hanteer AfriForum se ondersoekeenheid klagtes van boere wat groot verliese gely het. Mnr. Nantes Kelder, hoof van die eenheid, sê hy neem verklarings by boere af met die oog op strafregtelike sake.
Dié vervolging kan plaasvind ingevolge artikel 21 en artikel 151 van die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) asook ingevolge artikel 24 van die Grondwet.
Kelder sê van die veeartse waarmee hy reeds gesels het, sê hulle het op sommige plase siektes gesien wat hulle nog nooit voorheen gesien het nie.
Op een plaas is ’n visboerdery bykans tot niet. Nog ’n boer het nege Arabierperde weens die gehalte van die water verloor.
10 November 2011