
Die inwoners van Koster en Swartruggens gaan die stryd voortsit om die plaaslike munisipaliteit tot verantwoording te roep vir munisipale dienste wat nie gelewer word nie. ’n Aansoek om verlof tot appèl teen ’n hoogeregshofbeslissing hieroor word op 12 November aangehoor.
Die Noordwes-hooggeregshof in Mahikeng het verras toe in Maart beslis is dat die inwoners die plaaslike riool- en wateraanlegte wat hulle self herstel en onderhou het, aan die munisipaliteit moet teruggee. Waarnemende regter A.J. Mahlangu het teen die Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) beslis en gesê die heroorname van die aanlegte deur die gemeenskap was onwettig.
Die aanlegte is in Maart aan die munisipaliteit in ’n goeie werkende toestand terugbesorg, maar die situasie het binne dae versleg en die KBI het beheer teruggeneem. Die dienstemaatskappy Pionier het toe die aanlegte namens die inwoners bestuur.
Dit was nadat regter F.S. Guru in Desmber verlede jaar die gemeenskap die verantwoordelikheid gegee het om die aanlegte self te herstel en te bestuur. Inwoners het miljoene rande bestee om alles weer in ’n goeie werkende toestand te kry.
Mnr. Carel van Heerden, voorsitter van die KBI, sê ná die hofbeslissing teen hulle het hulle dadelik die water- en rioolaanlegte terugbesorg aan die munisipaliteit en Magalies Water (die munisipaliteit se diensverskaffer). Hy het ook bevestig dat binne dae nadat die aanlegte oorgegee is, wateronderbrekings in Koster en Swartruggens opnuut begin voorkom het.
“Noudat ons die infrastruktuur herstel het, het ons minder wateronderbrekings as voorheen. Die infrastruktuur is daar en alles werk. Hulle weet net nie hoe om dit te bestuur nie. Toe ons dit bestuur het, was daar 24 uur per dag water. Sedertdien het ons elke dag vir ’n paar uur weer nie water nie.”
Hy sê wat die rioolaanlegte betref, gaan dit al hoe slegter. “Die riool loop al weer in die Koster-rivier in. Hulle kry dit net nie reg nie.”
In die aansoek om verlof tot appél sê die KBI die hof het met verskeie beslissings gefouteer wat onder meer insluit die beslissing dat die munisipaliteit nie verantwoordelik gehou kan word vir koste wat inwoners sedert die heroorname van die werke aangegaan het nie, ’n kostebevel teen Pionier en ook die verwerping met koste van ’n aansoek dat mnr. Joseph Mogale, die munisipale bestuurder, 90 dae tronkstraf opgelê moet word weens minagting van die hof.
In die hofstukke word aangevoer dat die Kgetlengrivier-munisipaliteit in ’n hopelose staat van wanbestuur is en dat die provinsiale owerheid ook nie daarin slaag om betekenisvol in te gryp met die hulpmiddels wat ingevolge die Grondwet tot sy beskikking is nie.
Inwoners van dorpe reg oor Suid-Afrika hou die hofgeding met valkoë dop omdat hulle dit sien as ’n resep om hul munisipaliteite vir gebrekkige dienslewering tot verantwoording te roep of om dienste in eie hande te neem.