Ná maande se gewag het me. Mildred Oliphant, die Minister van Arbeid, vrae oor die nakoming van arbeidswette en veralgemenings oor onaanvaarbare arbeidstoestande op plase beantwoord, sê Agri SA. Luidens ’n verklaring het Oliphant gereageer op ’n vraag of ’n ondersoek gedoen is na die diensvoorwaardes en werksomstandighede van plaaswerkers.
Sy moes ook antwoorde verskaf oor of die departement na die nakoming van wetgewing in die landbousektor gekyk het en watter stappe gedoen is teen mense wat glo nie die wetsbepalings nakom nie.
Ontevredenheid
Dié vrae is in November verlede jaar aan die minister gestuur nadat sy ’n opmerking oor blitsinspeksies binne die sektor gemaak het. Sy het spesifiek na werkstoestande op kommersiële plase verwys, terwyl dié inspeksies op die landbousektor as geheel – wat ondernemings en kleinboere insluit – betrekking gehad het.
Me. Elize van der Westhuizen, die bestuurder van menslike hulpbronne by Agri SA, het toe aan Landbou.com gesê hulle was ontevrede oor die feit dat veralgemings oor boere en werkstoestande op plase gereeld gemaak word, maar wanneer die statistiek by die departement aangevra word, word dit geweier.
Die feite
Wat die blitsinspeksies betref het die minister geantwoord dat 1 744 plase van 14 tot 18 Junie verlede jaar besoek is. Op dié plase het 1 131 boere wetgewing nagekom, en in 613 gevalle is bevind dat wetsvereistes nie nagekom is nie.
“Die oortredings het gewissel van die regulering van werksure, dienskontrakte wat nie verlof- of kraamverlofvoordele uitstippel nie, die ontbreking van inligting soos deur die wet vereis in 69 gevalle, wanbetaling ten opsigte van oortyd in 14 gevalle en lone laer as die minimum loon op net 29 van die plase waarop inspeksies gedoen is,” lui die verklaring.
In dié gevalle is nakomingsbevele uitgereik, wat ná 21 dae opgevolg is, en indien die probleem steeds nie reggestel is nie, is die werkgewers krimineel vervolg of is ’n saak by die Arbeidshof aanhangig gemaak.
“Die inligting van die landbousektor weerspreek ál die bewerings wat gedurig in die media gemaak word oor die verontagsaming van arbeidswetgewing”, sê Agri SA.
28 Maart 2011