
Astral Foods se bedryfswins vir die jaar tot 30 September het R104 miljoen beloop, wat 193% beter is as die bedryfsverlies van R112 miljoen in die vorige boekjaar.
Die beter resultate was ondanks die druk waaronder verbruikers was, hoë voerkoste en voortgesette groot invoer van goedkoop hoender.
Mnr. Chris Schutte, hoof uitvoerende beampte, het met die bekendmaking van die groep se resultate gesê die pluimvee-afdeling se beter finansiële prestasie was onder meer danksy 'n volumestyging van 7% en prysstyging van 8%.
Hoewel voerpryse in die algemeen met 4% gestyg het, het die afdeling se voerkoste danksy doeltreffendhede met slegs 2% gestyg. Sy netto marge was egter 1,5%, wat volgens Schutte “te dun vir gemak” is.
In afwagting op die perk wat die Regering op die toevoeging van pekelwater wil sit, het die afdeling sy blootstelling aan individueel vinnig bevrore stukke (IQF) met 1% verminder en sy blootstelling aan die mark vir vars en waardetoegevoegde produkte vergroot.
'n Bewys van die moeilike omstandighede in die bedryf is dat sowat 10 kleiner produsente hul deure moes sluit. Astral het, waar die geografiese ligging sin gemaak het, van hierdie produsente se geriewe bekom.
Die Astral Foods-groep se inkomste het in die boekjaar met 13% gestyg, sy bedryfswins met 88%, verdienste per aandeel met 62% en wesensverdienste per aandeel met 99%. Die groep het n dividend van 440c per aandeel verklaar.
Schutte sê in die komende boekjaar sal trae ekonomiese groei en toenemende werkloosheid verbruikersbesteding benadeel maar laer mielie- en sojapryse kan vir voerkoste voordele inhou.