
Mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof van dié genoteerde geïntegreerde pluimveemaatskappy, sê die maatskappy het in sy boekjaar tot 30 September die tweede beste resultate in sy 21-jarige bestaan behaal. Die bedryfswins uit voortgesette bedrywighede het met 103% gestyg, maar Schutte sê persentasies kan misleidend wees.
“Die styging is vanaf ’n baie lae basisjaar. Covid-19-beperkings het in die basisjaar nog gegeld en baie mense het nie werk gehad nie.”
Teenoor die sterk styging in bedryfswins gee die lae winsmarge in die pluimvee-afdeling ’n beter aanduiding van die omstandighede in die bedryf.
“In die vorige vergelykende periode was ons marge op braaihoenders 0,2%. Dit het nou bietjie versterk tot 3,5%, wat dun is. In só ’n hoërisikobedryf, waar ’n mens afhanklik is van ’n hele klomp buitefaktore, is dit nie genoeg nie. Dit is ook nie genoeg vir deurlopende herbelegging nie.”
Die faktore wat tot die maatskappy se jongste goeie resultate bygedra het, is volumegroei ten opsigte van braaihoenders en voer, hoër marges in albei afdelings en in die algemeen beter doeltreffendheid. “Uitgesluit die gemors ten opsigte van water- en kragonderbrekings, is ons koste baie goed onder beheer,” sê Schutte.
Die maatskappy het die afgelope paar jaar meer as R1 miljard in sy bedrywighede belê, wat beteken sy braaihoendervolume het met byna 9% gegroei.
In die jongste boekjaar het Astral 400 000 meer hoenders per week geslag, Hy slag nou 5,8 miljoen per week.
Donker tyd wag
Schutte sê die afgelope vyf maande het beurtkrag, waterprobleme en hoë insetkoste ’n hoë tol geëis en die maatskappy wil dit baie duidelik maak dat die volgende resultate waarskynlik baie anders kan lyk.
“Ons het al sedert Julie negatiewe marges in die braaihoender-afdeling. Ons maak ’n verlies op braaihoenders. Die toekoms lyk maar donker. Die koste van grondstowwe het aan die einde van ons boekjaar baie vinnig gestyg en daar is nie aanduidings dat dit gaan daal nie.
“Die eerste en tweede kwartaal van die nuwe boekjaar gaan weens hoë insetkoste lelik wees. Produsentepryse sal nie vinnig genoeg styg om hiervoor te vergoed nie.” Dan is daar nog bykomende koste en gedwonge aankope om beurtkrag teen te werk.
“Beurtkrag is deel van ons toekoms. Dit gaan so bly en waarskynlik nog erger raak. Kragonderbrekings het ’n uitwerking op watervoorsiening en dan is daar boonop vrot waterinfrastruktuur.”
Uitgawes weens beurtkrag het die maatskappy in die afgelope boekjaar R150 miljoen gekos.
Duurder rakpryse
Schutte sê Astral “subsideer” tans die prys van hoendervleis en dat die verbruiker R3/kg tot R4/kg meer sal moet betaal.
“Meer as R1/kg hiervan is vir die koste van beurtkrag. Die prysstyging wat ons nodig het, het niks met winsgewendheid te doen nie, maar met volhoubaarheid. Ons weet verbruikers is onder druk en het begrip daarvoor.”
Indien die prys egter nie styg nie en pluimvee-ondernemings verlaag hul produksie of verlaat die bedryf, sal hoendervleis nóg duurder raak, sê hy.
Belegging in toekoms
In die huidige boekjaar beoog Astral ’n verdere R737 miljoen se kapitaalbelegging. Schutte sê teen April 2023 sal die maatskappy al sy geriewe in die hele waardeketting ten volle benut. As hy in die toekoms wil uitbrei, is dit nou die tyd om na die beginpunt terug te gaan en in teelmateriaal te belê. Dit sal ’n belegging in kapasiteit vir die volgende 25 jaar wees. ’n Groot deel van die R737 miljoen sal hieraan bestee word.
’n Verdere sowat R200 miljoen sal aan kragopwekkers en waterinfrastruktuur bestee moet word.
Dit gaan goed met Astral se bedrywighede in Zambië en hy beoog kapitaalbesteding aan ’n voermeule daar.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.