
Suid-Afrika se BTW-koers styg op 1 April van 14% tot 15%.
Die maatskappy sê in ’n verklaring hy verskaf jaarliks meer as twee miljard porsies hoender en besef terdeë dat die verhoging van die BTW-koers verbruikers swaar gaan tref, veral dié in die laer inkomstegroepe.
“Die BTW-verhoging is ’n wetlike verandering en ondernemings is verplig om dit in te stel.
“Astral het egter besluit om in verbruikers se belang die styging vir ses tot agt weke te absorbeer,” het mnr. Andy Crocker, besturende direkteur van Astral se kommersiële afdeling, gesê.
Subsidie
Hoewel die invloed van die verhoging nie onbepaald vermy kan word nie, sal Astral die oorgang deur ’n prysmeganisme subsidieer om sy klante sodoende te steun.
Crocker sê dit is onwaarskynlik dat voedselvervaardigers die BTW-styging onbepaald kan bly absorbeer. Astral beskou egter sy poging om die oorgang te vergemaklik as ’n unieke en verdienstelike geleentheid vir korporatiewe maatskaplike belegging, wat omvattende regstreekse voordele vir sy klante sal inhou.
Mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, het onlangs ’n beroep op die Regering gedoen om hoender deel te maak van die mandjie basiese voedselprodukte wat nie aan BTW onderhewig is nie.
Crocker sê Astral sal dié veldtog deur opbouende gesprekvoering voortsit om sodoende meer volhoubare verligting vir verbruikers te bewerkstellig.