
Altesaam 40 Suid-Afrikaanse perderuiters is op ‘n kortlys wat onlangs by vanjaar se Alltech FEI Wêreld-perderuiterspele vir moontlike deelname ingehandig is.
Luidens ‘n verklaring moes 58 federasies van regoor die wêreld hul nominasieslyste inhandig.
Meer as 900 atlete en 1 300 perde is genomineer om volgende maand aan die spele deel te neem. Dit word vanjaar vir die eerste keer buite Europa, in Kentucky, Amerika, aangebied.
Die Wêreldspele 2010-stigting sal teen die middel van September die lyste nagaan en aanwys watter atlete en perde wel toegelaat sal word om van 25 September tot 10 Oktober aan die spele deel te neem.
Vier lande het tans atlete vir al agt die dissiplines waarin deelgeneem sal word, genomineer. Hulle sluit in Australië, Kanada, Duitsland en Amerika. ‘n Verdere 19 lande het spanne of individuele mededingers in vyf of meer dissiplines genomineer.
Tydens die vierjaarlikse spele sal die beste atlete in die wêreld in agt ruiterdissiplines, wat deur die Fédération Equestre Internationale (FEI) erken word, meeding.
31 Augustus 2010