
Dít het die avokadobedryf se inkomste uit plaaslike varsproduktemarke met net meer as R30 miljoen tot R180,2 miljoen vergroot. Bedryfsleiers skryf die goeie groei toe aan ’n intensiewe markontwikkelingsinisiatief wat die Suid-Afrikaanse Avokadokwekersvereniging (SAAKV) saam met Pro Tactic Strategic Communication van stapel gestuur het.
Me. Lauren Anceriz van Pro Tactic het by die onlangse Subtrop-simposium verduidelik hoe die “Ad an Avo”-veldtog verbruikers by winkels en supermarkte bewus gemaak het van die veelydigheid van avokado’s in kos en ook van die vrug se gesondheidsvoordele en eienskappe.
Resepte vir avokadodisse is op pamflette gedruk wat by die verpakking van avokado’s ingesluit is terwyl gesondheidsvoordele op strooibiljette, winkelplakkate, baniere en staanders met die publiek gedeel is.
Verder is resepte en die voordele van avokado’s aggresief in die gedrukte media bemark deur die plasing van promosie-artikels in uitgesoekte publikasies. ’n Ewe intensiewe veldtog is op sosiale medianetwerke gevoer deur die iloveavos-veldtog op Facebook en Twitter.
Meer as 30 000 jong moeders is by 16 klinieke in die land geteiken waar hulle ingelig is oor die voordele wat avokado’s vir kinders inhou terwyl die gasvryheisbedryf bereik is deur noue samewerking met ’n groot restaurantgroep. Daar is ook ’n kompetisie vir spysenieringstudente aangebied waar hulle moes kompeteer deur ’n avokado-dis voor te berei.
Avokadoboere, verpakkers en markagente is ook by die projek betrek om seker te maak avokado’s word van die begin af reg hanteer. Hulle is ingelig oor die verskillende kultivars en hul eienskappe, asook die rypmaak en stoor van vrugte.
“Ons gaan nou op plaasvlak daarop moet fokus om ons produksie te verhoog, het mnr. Mark Baker, voorsitter van SAAKV oor die geweldige groei in die plaaslike mark gesê. Hy wys daarop dat die avokadoverbruik in die VSA oor die laaste 10 jaar verdubbel het tot 2,5 kg per kapita, danksy soorgelyke veldtogte. “In Suid-Afrika staan ons tans op ongeveer 850 g per kapita. As dit verdubbel het ons nie naastenby genoeg avokadoboorde om in die aanvraag te voldoen nie.”
Subtrop-voorsitter, mnr. Derek Donkin, sê dit is waarom boere reeds druk besig is om nuwe boorde aan te plant. “Al hoe meer gebruikers gaan nou meer gereeld meer avokado’s kan eet wat tot ekonomiese groei en werkskepping in hierdie bedryf gaan lei,” het hy gesê.