Vee wat nie gebrandmerk is nie, besorg veediefstaleenhede in Gauteng hoofbrekens, aldus die Gautengse Rooivleisprodusente-organisasie.
Mnr. Willie Clack, voorsitter, sê volgens die polisie is slegs 13% van die vee wat as gesteel aangemeld word, gebrandmerk.
“Volgens inligting is die sukses rakende die terugvind of suksesvolle vervolging 92% indien vee gebrandmerk is.
Nou is die vraag hoekom is 87% van vee nie gebrandmerk nie,” vra Clack op die organisasie se Facebook-blad.
Veldtog
Intussen het die polisie ’n veldtog onderneem om te verseker dat alle rolspelers in die bedryf die wette nakom. Clack sê vanaf Vrydag (30 September 2011) tot einde vanjaar sal veediefstaleenhede verskeie besoeke in die provinsie aflê om enige wetsoortreders vas te trek.
“Hulle gaan op almal fokus. Die veediewe, maar ook die boere. ’n Boer wie se diere nie gebrandmerk is nie, gaan probleme kry. Die maksimum boetes sal opgelê word,” vertel Clack.
Hy moedig boere wat nog nie ’n brandmerk by die departement van landbou, bosbou en visserye geregistreer het nie, aan om dit te doen. “Jy kan dit vinnig by die registrasiekantoor afhandel. Dit het my nog nooit langer as ’n halfuur gevat in die kantoor in Pretoria nie.”
Clack sê tydens die veldtog sal die polisie veral slagplase en veilings besoek. Beamptes sal ook polisiekantore waar daar nie veediefstaleenhede is nie, besoek om seker te maak die beamptes is behoorlik opgelei ten opsigte van die hantering van situasies.
Laksheid
Volgens Clack is die tyd verby vir boere om te sê hulle verstaan nie wetgewing behoorlik nie. “Ons kan nie meer onkundigheid bepleit nie!”
Mnr. Izak du Plessis, een van die organisasie se Facebook-gebruikers sê: “Laksheid is die kern van die probleem.”
Clack sê inligting oor die veldtog sal gereeld op die sosiale netwerk beskikbaar wees.
29 September 2011