
Mnr. Chris Moerdyk, korporatiewe ontleder en bemarkingskenner, sê dit is “uiters moeilik” om ’n gevestigde handelsnaam te vernietig.
“Ons het in Suid-Afrika al marknavorsing gesien waar respondente steeds Volkskas Bank as een van hul gunsteling-handelsname meld, al is die bank jare gelede reeds in Absa opgeneem. Dit is hoe die sielkunde agter handelsname werk.”
Moerdyk sê die groepsgedinge is wel skadelik vir Bayer, maar meer vanuit ’n finansiële oogpunt as wat dit sy reputasie skade berokken. “Sigaretvervaardigers moes al miljarde dollar weens groepsgedinge opdok, maar dit het hulle nog nie gekeer om sigarette te maak nie.”
Luidens verskeie nuusberigte die afgelope weke is beleggersvertroue in mnr. Werner Baumann, uitvoerende hoof van Bayer, glo aan die kwyn. Aandeelhouers meen Baumann en sy span het nie die risiko’s in ag geneem wat Bayer se verkryging van Monsanto ingehou het nie. Sedert hy dié landboutegnologiemaatskappy in Junie 2018 teen $63 miljard (R889 miljard) bekom het, het Bayer twee hofgedinge in Amerika verloor oor bewerings dat Monsanto se glifosaatproduk RoundUp kanker veroorsaak. Bayer se aandeelprys is nou reeds 38% swakker as toe die samesmelting van krag geword het en die maatskappy het €35 miljard (R565 miljard) in markwaarde prysgegee.
800 wetenskaplike studies
Bayer spreek in ’n verklaring sy teleurstelling uit oor die uitkoms van die Amerikaanse hofgedinge, maar sê dit verander nie die gewig van meer as vier dekades se navorsing en die gevolgtrekkings van reguleerders wêreldwyd wat die veiligheid van sy glifosaat-onkruiddoders ondersteun nie. Dit was al die onderwerp van meer as 800 wetenskaplike studies wêreldwyd, wat almal tot die gevolgtrekking gekom het dat glifosaat veilig is om te gebruik.
“Geen regulatoriese instelling ter wêreld beskou glifosaat as kankerwekkend nie. Trouens, as ’n mens gaan kyk na die dokumentasie, word die veiligheid van glifosaat gerugsteun deur die grootste databasis wat nóg oor ’n produk saamgestel is.”
Die Monsanto-transaksie was veronderstel om Bayer se posisie te versterk in ’n internasionale landbouchemiese mark waar die groot multinasionale maatskappye saamsmelt om mededingende voordeel te kry.
Dis egter duidelik dat Bayer bewus was daarvan dat Monsanto oor jare heen die bekendste teiken van omgewingsaktiviste se stryd teen GMO’s geword het. Hy het kort ná die oorname verlede jaar van die Monsanto-handelsmerk ontslae geraak as deel van ’n breër strategie om verbruikers se vertroue te herwin. Hy het ook met ’n veldtog begin om meer deursigtig te wees en het ’n platform geskep waarop hy sy veiligheidsdata, wat voorheen net aan reguleerders bekend gemaak is, aan die publiek beskikbaar stel.
Navorsing
Moerdyk sê dié benadering van deursigtigheid en gesprekvoering met kritici is die regte strategie te midde van die omstredenheid, maar ’n mens moet altyd baie deeglik kyk wie die navorsing finansier wat die veiligheid van ’n produk onderskryf. “Dit is ongelukkig so dat die finansiering van navorsing wel die uitkoms beïnvloed.” Aan die ander kant is die media ook volgens Moerdyk die speelveld vir verskeie groepe met bepaalde agendas.
“Die media is voortdurend vol stories oor navorsing dat sekere landbouprodukte sleg vir mense is. Verbruikers sal miskien skrikkerig wees as sulke nuus net bekend word, maar ondervinding wys as die stof gaan lê, koop mense steeds melk of spek of wat ook al in die spervuur was.”
Hy wys ook daarop dat Bayer se landboukliënte nie noodwendig deur die omstredenheid rondom die groepsgedinge afgeskrik word nie. Hierdie neiging is ook nie eiesoortig aan die landboubedryf nie. Ondanks die skandaal wat Volkswagen in 2015 getref het nadat sy kullery met uitlaatgassyfers in sy dieselvoertuie op die lappe gekom het, het dié Duitse motorreus in 2018 rekordverkope behaal.
“Kliënte steur hulle nie noodwendig aan omstredenheid nie. Vir hulle gaan dit veel eerder oor hul voorkeur vir die produkte wat hulle aankoop, of die prys wat hulle sak pas, as oor enige moralistiese redenasies.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.