
Die hof het onlangs bevind dat ’n Noord-Kaapse familie die reg gehad het om ’n familielid op die eienaar van Sandvliet Boerdery by Groblershoop se grond te begrawe, al het die oorledene nie op die plaas gewoon nie.
Me. Annelize Crosby, beleidshoof van grondsake by Agri SA, het boere se kommer oor die beslissing besweer deur op die unieke stel omstandighede in die betrokke saak te wys.
“Ek dink nie dat daar noodwendig baie soortgelyk gevalle na vore sal kom nie.”
Me. Magdalene de Wee is twee jaar gelede begrawe nadat die grondeisehof bevind het haar familie het die reg om haar by haar voorvaders op Sandvliet Boerdery se Middel-plaas te begrawe.
De Wee se naasbestaandes, me. Maria Mampies en haar man, mnr. Hendrick Mampies, het die grondeisehof genader, wat bevind het die Mampies-familie het die reg om haar daar te begrawe omdat hulle familie van De Wee was. Volgens die grondeisehof was dit in ooreenstemming met hul geloofs- en kulturele oortuigings dat die oorledene in die Middel-plaas-begraafplaas begrawe word.
Bo- en Middel-plaas behoort aan Sandvliet Boerdery en Onder-plaas, waar De Wee gewoon het, het ’n ander eienaar. Die grond was tot ’n paar jaar gelede een plaas.
Mampies en haar man woon hulle lewe lank op Onder-plaas. Die Mampies-familie beskou die plase as ’n eenheid, soos ’n vorige eienaar, mnr. Jan Pieter Engelbrecht, dit bedryf het. Maria het vir Engelbrecht gewerk tot en met haar aftrede. Hulle het onbeperkte toegang tot die plase gehad en was oor geslagte heen nie bewus van die plaasgrense nie. Maria se ma het ook vir Engelbrecht gewerk.
Nuwe eienaars
Nadat Engelbrecht die grond in 1991 verkoop het, het dit verskeie eienaars gehad, waartydens die inwoners se verblyf- en werksomstandighede aanvanklik onveranderd gebly en hulle onbelemmerde toegang tot die Middel-plaas-begraafplaas gehad het.
Volgens die grondbewoners het die nuwe eienaarskap hulle in 2014 aan streng en onredelike reëls onderwerp. Hulle is nie toegelaat om kinders te verwek nie. Hulle is gedwing om hul vee te verkoop en is verbied om besoekers by hul huise te ontvang. Hulle is ook toegang tot die Middel-plaas-begraafplaas geweier.
In 2015 het die vorige eienaars met uitsettingstappe teen 30 families begin. Die Mampies-familie was nie by die groep ingesluit nie. Dit was tydens hierdie proses dat die plase aan die huidige eienaars verkoop is.
Toe De Wee dood is, het haar ouers, wat nie op een van dié plase gewoon het nie, en die Mampies-familie, wat haar as hul eie dogter beskou het, die wens uitgespreek dat sy in die Middel-plaas-begraafplaas langs ander familielede begrawe word.
Die nuwe eienaar, Sandvliet Boerdery, het egter geweier. Toe die grondeisehof beslis het dat sy wel daar begrawe mag word, is die oorledene enkele ure ná die beslissing begrawe. Nogtans het Sandvliet by die appèlhof geappelleer en aangevoer dat sy nie daar begrawe moes gewees het nie, aangesien sy nie op die plaas gewoon het nie.
Regter Mandisa Maya het die appèlaansoek van die hand gewys en beveel dit is moontlik dat iemand op ’n stuk grond kan woon wat uit meer as een geregistreerde gedeelte bestaan. Die hof het bevind daar is geen gronde vir die nuwe eienaar se vrees dat sy grond uiteindelik in een groot begraafplaas gaan verander nie.
Dit blyk ook ondenkbaar te wees dat die wetgewer die bedoeling sou gehad het om hierdie klein kategorie van bewoners van ’n baie belangrike reg te ontneem.
Die hof het aangevoer dat ten spyte daarvan dat De Wee twee jaar gelede begrawe is, het die appèlaansoek ’n diskrete regskwessie van openbare belang behels wat belangrik is vir toekomstige sake.
In praktyk
Crosby sê die uitspraak behoort in die praktyk nie ‘n groot impak te hê nie omdat hier taamlik unieke omstandighede gegeld het. “Hier is ’n baie spesifieke geskiedenis ter sprake waar die bewoners oor ’n lang tyd toegelaat is om hul familie in die betrokke begraafplaas te begrawe. Die hof het gekies om nie die bewoording van die wetgwing in dié verband streng te interpreteer nie, maar eerder ’n ruim interpretasie te gee wat na die regters se mening in ooreenstemming met die Grondwet en die bedoeling van die wetgewer is.”
Sy sê die betrokke bepaling oor verblyfreg kan slegs van toepassing wees waar daar ’n gevestigde praktyk is om mense in die betrokke begraafplaas te begrawe en waar die oorledene ten tye van haar dood ’n bewonerop die plaas was.
“Daar moet met ander woorde ’n bestaande begraafplaas wees waar begrafnisse en bewoners oor tyd toegelaat is. Hoewel die oorledene in dié geval op grond gewoon het wat intussen aan ’n nuwe eienaar verkoop is, is daar ’n sterk historiese verbintenis tussen die okkupeerder en die begraafplaas.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.