
1. Persoonlike belasting – goeie nuus!
Die 2023-begroting bied belastingverligting met persoonlike inkomstebelastingvlakke en -kortings wat in pas met die verwagte inflasiekoers van 4,9% aangepas word. Die bedrag wat ’n individu kan verdien voordat belasting betaalbaar is, word soos volg vir die belastingjaar van 1 Maart 2023 tot 29 Februarie 2024 aangepas:
- Onder die ouderdom van 65 verhoog van R91 250 tot R95 750.
- Ouderdom 65 tot 74 verhoog van R141 250 tot R148 217.
- Ouderdom 75 en ouer verhoog van R157 900 tot R165 689.
- Hierdie drempels is die gevolg van nuwe belastingkortings:
- Primêr (alle individue) vanaf R16 425 tot R17 235.
- Sekondêr (ouderdom 65 en ouer) vanaf R9 000 tot R9 444.
- Tersiêr (ouderdom 75 en ouer) vanaf R2 997 tot R3 145.
2. Sondebelasting – slegte nuus!
Alkohol- en tabakprodukte word duurder.
Die verhogings is as volg:
- Moutbier: 10c per 340ml blikkie.
- Ongefortifiseerde wyn: 18c per 750 ml-bottel.
- Gefortifiseerde wyn: 31c per 750 ml-bottel.
- Vonkelwyn: 9c per 750 ml-bottel.
- Appelbier en alkoholiese vrugtedrankies: 10c per 340 ml-blikkie.
- Sterk drank: R3,90 per 750 ml-bottel.
- Sigarette: 98c per pakkie van 20.
- Sigarettabak: R1,10 per 50 g.
- Pyptabak: 33c per 25 g.
- Sigare: R5,47 per 23 g.
Aksyns verhoog ook! Spesifieke aksyns op alkoholiese drankprodukte en tabakprodukte sal met 4,9% verhoog, wat in pas is met die verwagte inflasiekoers. Aksyns het die afgelope jare hoër as inflasie gestyg en is dus goed vir die regering se belastinginvordering.
Die voorgestelde riglyne vir aksyns op wyn, bier en sterk drank is onderskeidelik 11%, 23% en 36% van die gemiddelde kleinhandelprys.
3. Suikertaks – sug van verligting
Die nasionale gesondheidbevorderingsheffing, ook bekend as suikertaks, bly onveranderd. Die besluit is geneem om belanghebbendes in die suikerbedryf die kans te gun om te herstruktureer en te transformeer.Die heffing sal ook nie in volgende begroting (2024-’25) verhoog word nie.
Godongwana sê verskeie probleme staar die bedryf in die gesig, onder meer weens druk op mededinging in die streek en die impak van die 2022-vloede en voorafgaande onluste in 2021 op die sektor.Die regering gaan wel binnekort konsultasieprosesse begin om voorstelle te bespreek om die heffing uit te brei sodat dit suiwer vrugtesappe insluit en om die drempel van 4 gram drempel te verlaag.
4. Dieselkorting – geen verandering
Die dieselrabat bly onveranderd.
Die regering het die dieselterugbetalingstelsel in 2000 ingestel vir die landbou-, mynbou-, visserye- en bosbousektor.
Hierdie rabat word nou uitgebrei na die vervaardiging van voedselprodukte en sal vanaf 1 April 2023 geld. Volgens Godongwana is die uitbreiding van hierdie verligting nodig om die druk wat kragonderberkings op voedselpryse plaas, te probeer beperk.
5. Eskom se reddingsboei - uiteindelik
Die R254 miljard-skuldverligting wat Godongwana aangekondig het, sal van Eskom se balansstaat na die regering sin oorgeskuif word. Die reddingsboei sal onder streng voorwaardes geskied. Dit moet Eskom onder meer help om sy skuld- en renteverpligtinge oor die volgende drie jaar af te betaal. (Lees hier meer.)
6. Sonpanele – goeie nuus!
Vanjaar se begroting hou goeie nuus vir individue in wat binnekort 25% van hul belasbare inkomste kan aftrek wanneer sonpanele by wonings opgesit word.
’n Maksimum van R15 000 per individue sal wel geld. Dié aansporing kan ingespan wanneer individue se persoonlike belasting vir die 2023’-24-belastingjaar bereken word.Besighede sal ook binnekort kan eis vir ’n 125%-aftrekking in die eerste jaar vir alle hernubare energieprojekte met geen perk op opwekkingskapasiteit nie. (Lees hier meer)
7. Brandstofheffings - onveranderd
Geen verhogings geld vir die algemene brandstofheffing of padongeluksfonds.
Godongwana sê Suid-Afrika het die afgelope jaar aansienlike prysstygings in brandstofpryse ervaar weens die internasionale Brent-ruoliepryse, die rand-dollar-wisselkoers en die balans tussen aanvraag en aanbod.Die heffing op diesel by dus onveranderd op R3,70 per liter en op petrol (93 oktaan) op R3,85 per liter.
8. Hereregte
Die regtekoerstabel word met ingang van 1 Maart 2023 aangepas. Die eerste R1,1 miljoen van die waarde van die eiendom wat verkry word, is vrygestel van hereregte. Die nuwe belastingkoers vir eiendomswaarde sal soos volg verander:
- R0 - R1 100 000 – 0% van eiendomswaarde.
- R1 100 001 - R1 512 500 – 3% van eiendomswaarde bo R1 100 000.
- R1 512 501 - R2 117 500 – R12 375 + 6% van eiendomswaarde bo R1 512 500.
- R2 117 501 - R2 722 500 – R48 675 + 8% van eiendomswaarde bo R2 117 500.
- R2 722 501 - R12 100 000 – R97 075 + 11% van eiendomswaarde bo R2 722 500.
- R12 100 001 en hoër – R1 128 600 + 13% van eiendomswaarde bo R12 100 000.
9. Veiligheid en sekuriteit – polisiemag vergroot
Die tesourie wys R14 miljard op mediumtermyn toe om misdaad en korrupsie te bekamp. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se begroting word verhoog met R7,8 miljard om 5 000 nuwe rekrute per jaar aan te stel.
Die nasionale vervolgingsgesag ontvang R1,3 miljard ter ondersteuning om die aanbevelings van die staatskapingskommissie toe te pas en die spesiale ondersoekeenheid kry R100 miljoen.
10. Paaie, water en Transnet – hopelik
Wat vervoer en logistiek betref, sal ongeveer R351,1 miljard aan strategiese infrastruktuurprojekte spandeer word, onder meer deur Sanral om Suid-Afrika se padinfrastruktuur op te knap.
Projekte vir water en sanitasie kan in totaal tot R132,5 miljard oor die volgende drie jaar beloop.
Derde partye gaan ook binnekort toegang tot die spoorwegnetwerk verkry.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.