
Dít was die boodskap van mnr. Tito Mboweni, wat onlangs as Minister van Finansies aangestel is, terwyl hy die mediumtermynbegroting in die Parlement ter tafel gelê het.
Dié begrotingsrede vind plaas in ’n tyd wat die land moontlik steeds ’n tegniese resessie beleef en daar in die globale sfeer stormwolke op die horison is wat ál meer risiko’s vir ontwikkelende lande inhou namate handelspanning toeneem en finansiële omstandighede die net stywer span.
Op mediumtermyn bied pres. Cyril Ramaphosa se plan vir ekonomiese herstel egter die noodsaaklike elemente om vertroue te ondersteun om die land deur hierdie moeilike tyd te dra.
Die Regering moet volgens die plan vennootskappe met die private sektor sluit om belegging in die openbare infrastruktuur te verhoog. ’n Infrastruktuurfonds word tans saamgestel.
Die Regering sal onder meer aandag skenk aan hervormings wat ekonomiese groei ondersteun, inflasionêre druk verminder en dienslewering verbeter.
Gematigde groei
Die verwagting is dat die landbou- en mynbousektor oor die volgende 12 maande na gematigde groei sal terugkeer. Besigheids- en verbruikersvertroue sal na verwagting op mediumtermyn verbeter. Ten spyte van laer produkpryse, word verwag dat duidelikheid oor verskeie beleidskwessies oor die afgelope ses maande belegging in die mynwese en die energiesektor sal ondersteun. Hoër uitsette van die landbousektor word verwag danksy verbeterde reënval in die Wes-Kaap vanjaar.
Die tegniese resessie is grootliks aangespoor deur die inkrimping in die landbou- en mynbousektor toe ’n afname in die bruto binnelandseproduk (BBP) op ’n kwartaalgrondslag ervaar is. Daar word verwag dat die BBP-groei gemiddeld 0,7% vanjaar, 1,7% volgende jaar en 2,1% in 2020 sal behaal. Hierdie ekonomiese uitkyk is swakker as wat in die begroting van Februarie beraam is en die hersiening weerspieël ’n laer produksie deur die landbou- en mynbousektor in die eerste helfte van die jaar, asook ’n tekort aan belegging.
Dink weer oor voorrangsake
Wat bestedingsvoorrangsake betref, is besluit om nie aan die bestedingsplafon te peuter nie. Die heroorweging van voorrangsake neem Ramaphosa se ekonomiese stimulus-en-herstelplan in aanmerking. Om werk te skep, kry programme, wat ontwerp is om groei in informele nedersettings en landelike ekonomieë aan te help, voorkeur tot die geld, asook die herstelwerk aan padinfrastruktuur.
In die huidige boekjaar word R3,4 miljard vir droogteverligting bygevoeg, meestal vir die opgradering van waterinfrastruktuur.
Vir die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye is R1,305 miljoen begroot vir herstel ná rampe en die rehabilitasie van plase. Daar is ook uitgawes in die 2018-begrotingstoespraak geoormerk wat in die toekoms toegestaan moet word. Dít is R566,5 miljoen vir die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye vir droogteverligting, R318 miljoen vir die Departement van Omgewingsake, R1,302 miljard vir die Departement van Water en Sanitasie en R1,226 miljard vir die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake vir droogteverligting. Die R566,5 miljoen droogtegeld vir die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye word verdeel onder drie programme, met R266,5 miljoen vir die omvattende landbousteunprogram, R200 miljoen vir LandCare en R100 miljoen vir projekte vir grondgebruik en grondbestuur.
Grondhervorming
Die begroting van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming is nie aangepas nie. Wat grondhervorming betref, het Mboweni op die perskonferensie voor sy begrotingstoespraak verwys na 27 plase wat in 1995 en 1996 aan begunstigdes gegee is om te bewerk, wat in woude ontaard het. Hy het voorgestel dat eerder met landboumaatskappye, soos die tamatiereus ZZ2, in vennootskap gegaan moet word as om dié maatskappye te verjaag.