
Eskom is die grootste
langtermynrisiko vir die Suid-Afrikaanse ekonomie gegewe sy hoë skuldvlakke en
onvolhoubare sakemodel.
“Onvoldoende kragvoorsiening is een van die grootste probleme wat die ekonomie in die gesig staar en daarom is die betroubaarheid en voldoende voorsiening van elektrisiteit uiters belangrik,” het Godongwana gesê.
“Plaaslik kan ’n toename in kragonderbrekings die ekonomie wat kwesbaar bly hoewel dit herstel, verder onder druk plaas.
“Daarom kan die toepassing van hervormings in die energiebedryf die nadelige impak van beurtkrag help bestuur en help om meer sakevertroue te skep en beleggings te lok,” het Godongwana met die bekendmaking van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) vir 2022 gesê.
Godongwana het gesê dat Suid-Afrika se ekonomiese groei na verwagting in 2022 stadiger wees teen 1,9% teenoor 4,9% in 2021.
Sedert hy die nasionale begroting vir die huidige boekjaar in Februarie gelewer het, het plaaslike en internasionale gebeure die ekonomie verder onder druk geplaas.
“Suid-Afrika se vlakke van ekonomiese groei bly laag en is nie voldoende om hoë armoede en werkloosheid aan te pak nie.”
Ander struikelblokke wat herstel en groei belemmer, sluit in ’n ondoeltreffende spoorwegnetwerk en hawens, korrupsie en misdaad.
Reddingspakket
Eskom voorsien beurtkrag gaan vir ongeveer 18 maande voortduur.
Die kragverskaffer sit met R400 miljard skuld en Godongwana sê ’n laer skuldlas sal Eskom help om ’n volhoubare ontknopingsproses toe te pas en help om meer te kan belê in noodsaaklike elektrisiteitsvoorsiening en infrastruktuur.
Die regering beoog om ’n derde tot twee derdes van dié skuld met streng voorwaardes oor te neem. “Die skuldverligting sal egter nie al Eskom se probleme oplos nie,” volgens die minister.
Die nasionale tesourie kry ’n skuldverligtingsproses vir Eskom gereed, maar meer inligting oor die reddingsboei, die bedrag en hoe dit toegepas sal word, gaan eers in die 2023-begroting uiteengesit word.
Die Transnet-staking, verval van sy infrastruktuur, vandalisme en misdaad sal voortgaan om druk op Transnet te plaas en kan sy vooruitgang belemmer.
Transnet sal bykomend R5,8 miljard vir die huidige boekjaar ontvang wat aangewend sal word om die vloedskade van April te herstel en sy lokomotiewe te herstel en in stand te hou.
Die toegang vir derde partye tot die spoorwegnetwerk word ook deur die tesourie aangemoedig.
Storms op pad
Die ondersteunende ekonomiese omgewing wat die wêreld kort na covid-19 geniet het, asook die impak van hoë kommoditeitspryse die afgelope ruk, is besig om te vervaag.
Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne, die energieprobleme in Europa en die afname in die groei van China se ekonomie bly aansienlike risiko’s.
Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het reeds sy wêreldwye groeivooruitskatting vir 2022 aangepas van 4,4% tot 3,2%. “Dit beteken die internasionale omgewing is nou minder ondersteunend vir ons groei as wat ons aan die begin van die jaar verwag het,” volgens Godongwana.
“Klein ekonomieë, soos ons s’n, moet daarom veral versigtig wees en soliede fiskale ondersteuning gereed hê om die komende storm te kan weerstaan.”
Meevaller
Die fokus van vanjaar se MTBR is dus op planne om meer in gesondheidsdienste, opleiding, infrastruktuur en veiligheid en sekuriteit te bestee.
“Hierdie stappe sal help om sekere bottelnekke oop te maak wat tans ekonomiese aktiwiteite beperk. Dit moet ook beleggings aanmoedig.”
Geld is hiervoor nodig en gelukkig vir Suid-Afrika het die tesourie klaar vanjaar reeds meer belasting ingevorder as wat in Februarie verwag is. Die bruto belastinginkomste vir die huidige boekjaar is aangepas met R83,5 miljard tot R1,68 biljoen, veral danksy maatskappye wat belasting betaal.
Hierdie meevaller gaan nou ingespan word om Suid-Afrika se skuldvlakke aan te pak en die regering se besteding aan te pas sodat ekonomiese groei aangehelp kan word.
Ander sukkelende staatsinstellings soos Denel en Sanral gaan ook broodnodige finansiële steun ontvang.
Verhoogde besteding op mediumtermyn gaan ook konsentreer op die getal onderwysers en polisie, asook die opknapping van kritieke infrastruktuur veral van water, paaie en die spoorwegnetwerk.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.