In ’n tyd dat daar internasionale kommer is oor voedselsekerheid en voedselpryse, word dit betreur dat die landbou afgeskeep word in die begroting en dat boere eenvoudig in die groot ekonomiese massa verdwyn terwyl ’n ander speelveld ter sprake is vir die landbou.
In ‘n nuusverklaring sê mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, dat die landbou die nuwe finansiële jaar met ’n swaar hart binnegaan. Die aanslag op die boere se grond gaan voort met die aankondiging dat 4000 grondeise afgehandel gaan word. “Die gevaar bestaan dat teen tyd gehaas gaan word om politieke doelwitte te bereik terwyl die ervaring oor jare al geleer het dat baie eise nie bona fide-eise was nie.”
Geweldige verhogings
Meintjes sê boere staar geweldige verhogings in die gesig, en van die verhogings wat boere tot kommer stem is:
• Die brandstofheffing se verhoging met 28 sent per liter. Boere se trekkers, stropers en ander werktuie sien nooit ’n openbare pad nie, maar hulle moet kruissubsidiëring toepas vir ander nie-landbou verwante projekte;
• Die tolgelde wat einde April in werking tree. Taxi’s word vrygestel, maar boere wat teen groot koste van ver af voedsel vir die markte moet voorsien, sal die volle bedrag in tolgeld moet betaal. Die alternatiewe roetes wat herstel gaan word, gaan helaas nog lank neem en is nie eens ’n troosprys nie;
• Die styging van kapitaalwinsbelasting vir maatskappye tot 66% kan rampspoedig wees. Meeste boerderye is om ekonomiese redes in maatskappye gestruktureer. As die staat nou druk plaas in terme van grondhervorming op boere om hulle grond te verkoop, moet hulle dan nog ’n geweldige bedrag aan kapitaalwinsbelasting betaal, wat dit onmoontlik maak om ’n nuwe bedryf aan te koop.
Hoofsaaklik vir opkomende boere
Van die R1,9 miljard wat vir Departement Landbou en die Land Bank toegestaan is, gaan waarskynlik baie min by kommersiële boere uitkom en waarskynlik vir opkomende boere gegee word.
Landbou het dus in wese niks om opgewonde oor te wees nie, behalwe die vooruitsig van die opknapping van infrastruktuur, maar dit gaan helaas nog lank neem om te realiseer, en gaan boere intussen nog baie skade aan voertuie en bande kos, sê Meintjes. “Daarbenewens bestaan daar altyd die twyfel of die prosesse reg bestuur kan word, of tenders behoorlik toegeken gaan word sonder bedrog en korrupsie en dat fondse op die mees produktiewe wyse aangewend gaan word.”
23 Februarie 2012