
Volgens hierdie
mandaat moet departemente hul planne en begrotings só aanpas dat dit die
nasionale begroting versterk. Huidige neigings dui daarop
dat Suid-Afrika waarskynlik nie die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan
sal bereik nie.
Die Mediumtermyn-bestedingsraamwerk (MTBR), watdeur mnr. Malusi Gigaba,
Minister van Finansies, in die Parlement bekend gemaak is, toon dat geen
bykomende finansiering beskikbaar sal wees om die 2018-begroting aan te vul
nie. Gevolglik bestaan die moontlikheid dat van die programme wat as “nie uiters
noodsaaklik” beskou word, besnoei sal moet word.
Voorrangsake
Die sewe voorrangsake in die MTBR is gekies in die lig van swak ekonomiese groei, beperkte begrotings en hulpbronne en die groeiende druk op die fiskus.
Die voorrangsake is:
· Die skep van werksgeleenthede en kleinsake-ontwikkeling.
· Jeugontwikkeling.
· Die uitbreiding en instandhouding van infrastruktuur. Die uitbreiding van die landbouparkeprojek en die instandhouding van landelike paaie en waterinfrastruktuur sal onder meer voorrang geniet.
· Grondhervorming en landbou-ontwikkeling. Die afhandel van restitusie-eise en die herverdeling van grond is ’n voorrangsaak. Ondersteuning aan boere, transformasie in die wildbedryf en ooreenkomste vir kleinsake en koöperasies is van die ander belangrike sake.
· Omvattende maatskaplike sekerheid, opvoeding en vaardigheidsontwikkeling. Gratis onderrig vir armes sal nagestreef word.
· ’n Geïntegreerde plan om misdaad te bekamp.
· Die bevordering van belangstelling in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) deur deelname in Brics (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) en die vereniging vir lande om die Indiese Oseaan (IORA).
Ekonomiese ontwikkeling
Intussen sal die Departement van Wetenskap en Tegnologie R24,8 miljard in die ontwikkeling van nuwe kennis, die ontwikkeling van nuwe kapitaal, navorsing en vernuwing belê.
Suksesvolle grondhervormingsprogramme behoort nuwe boere aan die landbouwaardeketting bloot te stel. Landbouparke kan ’n groot bydrae lewer as die sentrale punte waar kleinboere hul produkte kan verwerk en toegang tot markte kan verkry. Die Nasionale Tesourie het in die MTBR aangedui dat drie landbouparke byna voltooi is. Die plan is om een in elkeen van die 44 distriksmunisipaliteite van die land op te rig.
Weens die voortdurende droogte in dele van Suid-Afrika is die reeds beperkte waterhulpbronne steeds kritiek, veral in Kaapstad.
Daar word verwag dat die Departement van Water en Sanitasie sy waterprysstrategie in die 2018-’19-boekjaar sal voltooi. Dié strategie sal bepaal wat die prys van water sal wees en hoeveel gesubsidieer sal word vir nywerheidsgebruik, die kommersiële landbou en huishoudelike gebruik. Die stigting van ’n nasionale agentskap vir waterinfrastruktuur en opvangsbestuur sal ook na verwagting op mediumtermyn voltooi word.