
Die begrotingsrede word op 20 Februarie gelewer.
Hulp aan boere in die knaende droogte en die herstrukturering van die land se elektrisiteitsektor is van die wenke wat uitstaan.
Dr. Requier Wait, hoof van ekonomie en handel by Agri SA, sê die organisasie wil hê dat droogte-ondersteuning in die begroting vermeld moet word.
“Droogte-ondersteuning is noodsaaklik vir die volhoubaarheid van die sektor. Regstreekse ondersteuning, wat doeltreffend en spoedig toegepas word, is noodsaaklik vir boere wie se bedrywighede in oorlewingsmodus is weens die langtermyngevolge van die droogtetoestande.”
Wait voeg by dat landboubesighede die agente kan wees om die droogtehulp te versprei. ’n Openbare ouditproses kan gevolg word om deursigtigheid te verseker en om moontlike korrupsie te verminder.
Daar word ook voorgestel dat Mboweni geld bewillig vir die onderhoud van paaie, logistieke infrastruktuur en dat die toepassing daarvan doeltreffend gedoen moet word.
Om ’n stok voor korrupsie en swak dienslewering te steek, moet swak presterende munisipaliteite onder administrasie geplaas word om te verseker dat die beskikbare geld doeltreffend bestuur word.
Wat die dieselrabatstelsel betref, word gevra dat terugvoer oor die voorgestelde nuwe stelsel verskaf word, wat kan help om die vertragings met die verwerking van eise en uitbetalings binne die huidige stelsel op te los.
Elektrisiteit
Oor kragpryse sê Wait: “Boere is prysnemers en stygende elektrisiteitskoste het ’n regstreekse impak op die landbou se internasionale mededingendheid, waar boere stygende insetkoste moet absorbeer.”
Die staat se begroting is reeds onder druk en geldinspuitings vir Eskom is nie volhoubaar nie.
“Agri SA is ten gunste van die herstrukturering van Eskom om dit meer volhoubaar te maak. Ons hoop om konkrete planne te sien vir die herstrukturering van Eskom en die hantering van sy skuldverpligtinge.”
Die hersiening van die huidige prysbeleid vir elektrisiteit sal die impak van elektrisiteitspryse op Suid-Afrika se internasionale mededingendheid en ekonomiese groei in ag moet neem, sê Wait.
Vervang Nedlac
Die Konfederasie van Werkgewers (Cofesa) se raad aan Mboweni is dat die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) vervang moet word met ’n onafhanklike adviesgewende raad wat bestaan uit vooraanstaande ekonome, sakeleiers en hoëvlak-regeringsamptenare wat spesialiste is. Dié raad sal aan die presidensie, die Minister van Finansies en die Minister van Handel en Nywerheid raad kan gee rakende geskikte ekonomiese beleide vir groei.
Die organisasie het Mboweni se sukses in die motorbedryf as voorbeeld voorgehou. Mboweni het dié sukses behaal toe hy in die 1990’s Minister van Arbeid was.
Cofesa meen dieselfde soort beleidsaksieplan kan na ander bedrywe uitgebrei word. Een hiervan is die landbou, waar hy meen dat met minimale aansporing 700 000 bykomende werksgeleenthede geskep kan word.
Hy stel ook voor dat die Departement van Arbeid ’n subdepartement van die Departement van Handel en Nywerheid word. Sodoende sal beter koördinering kan plaasvind wat kan verhinder dat arbeidwetsgewing werkskepping en ekonomiese ontwikkeling strem, terwyl beleggers gelok en ’n sakevriendelike omgewing geskep kan word.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.