
Danksy stewige groei in die landbou- en dienstesektor gedurende die derde kwartaal van 2022 én hoë kommoditeitspryse, het Suid-Afrika se ekonomie verlede jaar met 2,5% gegroei.
Hoewel meer as die 1,9% wat tydens verlede jaar se mediumtermynbegrotingsrede voorspel is, is die groei steeds minder vergeleke met 2021 se groei van 4,9 %.
Mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, het Woensdag tydens die bekendmaking van die 2023- nasionale begroting vooruitsigte vir die land se ekonomiese groei bekendgemaak.
Groei in die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan na verwagting verlangsaam weens die strawwe elektrisiteitsonderbrekings, die wêreld se grootste ekonomieë wat swakker vaar en die knaende hoër inflasie.
Die verwagte ekonomiese groei vir 2023 word daarom afwaarts tot 0,9% aangepas en daar word verwag dit sal in 2025 tot 1,8% herstel. “Hierdie groeikoerse is veel laer as wat nodig is om werk te skep en armoede uit te roei,” het Godongwana gesê.
Godongwana waarsku verder oor groot druk op huishoudings weens stygende lewenskoste. “Belastinginvordering sal ook na verwagting minder wees en die regering se uitgawes sal beter beplan moet word terwyl maatreëls vir ekonomiese groei stukrag kry.”
Godongwana glo ook die verbetering in die prys van edelmetale wat ekonomiese groei en belastinginkomste oor die afgelope twee jaar gesteun het, kom tot ’n einde.Enkele kwessies uit die begroting
Die departement van landbou,
grondhervorming en landelike ontwikkeling ontvang R7,8 miljard wat oor die
volgende drie jaar ingespan sal word vir onder meer biosekuriteit, om
landbouproduksie aan te moedig en natuurlike hulpbronne, soos water, te
bestuur.
Maatskaplike toelaes, wat gemeenskapsontwikkeling,
indiensnemingsprogramme, gesondheid, onderwys en maatskaplike ontwikkeling
insluit, is die regering se grootste uitgawes. Maatskaplike toelaes sal in lyn
met verbruikersprysinflasie (VPI) verhoog. R36 miljard word aan covid-19
welsynstoelaag toegewys.Die R350-toelaag sal tot 31 Maart 2024 voortduur.Teen Maart 2026 sal 19,6 miljoen mense maatskaplike toelaes vanaf die regering
ontvang.
Die Land Bank ontvang sy R5 miljard, onderhewig aan sekere voorwaardes. Dit is voorheen in reserwe gehou. Volgens die begrotingsoorsig het die Land Bank se finansiële posisie intussen verbeter, maar bly die instelling steeds ’n wanbetaler van sy skuld.
Die regering neem R254 miljard van Eskom se skuldverpligtinge oor as deel van breër energiesektor-hervormings. (Lees hier meer.)
Die 2023-begroting verlaag wel die gekonsolideerde begrotingstekort tot sy laagste vlak sedert die 2017-’18-boekjaar.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.