
Dr.
Mmatlou Kalaba, senior ontleder van die buro vir voedsel- en landboubeleid
(BFAP), het gesê die feit dat nie net die primêre landbou die dieselrabat kan
benut nie, maar ook voedselvervaardigers, kan voordele inhou vir onder meer
braaihoenderprodusente.
Kalaba het in ’n begrotingsbespreking, aangebied deur die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR), gesê die primêre landbou word ook geraak deur die terugslae wat vervaardigers van voedselprodukte weens beurtkrag ervaar.
Mnr. Charles de Wet, belastingkundige van die prokureursfirma ENS Africa, het aan Landbou.com gesê die proses om die korting terug te eis, is ingewikkeld.
Dit klink wel of daar dalk hoop is in dié opsig, omdat dr. Victor Thindisa van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in die NLBR-bespreking gesê het die departement is in gesprek met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om die uitgerekte vereistes om die dieselrabat terug te eis, wat veral vir kleiner boere baie moeilik is, te verander.
Aansporings vir eie kragopwekking
Die aansporing vir ondernemings dat hulle 125% van die beleggingskoste om hul eie hernubare krag te kan opwek, van hul belasbare inkomste kan aftrek, is goeie nuus vir boerdery-ondernemings, sê De Wet. Dit is ’n verhoging van wat die huidige belastingaansporings behels.
Die aansporings vir individue om sonkrag deur panele op hul dak op te wek, skep wel vrae. Dit bedra 25% van slegs die koste van sonpanele, geld net vir een belastingjaar, vanaf 1 Maart 2023, en is beperk tot ’n maksimum R15 000. “ ’n Groot deel van die koste van ’n sonkragstelsel is die omsetter en die batterye,” sê De Wet, en daarom verwag hy nie dat dit ’n groot verskil gaan maak aan individue wat hul eie sonkrag gaan wil opwek nie.
BTW op hoendervleis
Mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, het in sy begrotingstoespraak geen melding gemaak van BTW nie. De Wet reken dit is belangrik dat die veldtog voortduur om hoendervleis, of sekere hoendersnitte, kwyt te skeld van BTW, aangesien daar tans geen vleis in die mandjie van BTW-vrye voedsel is nie. “In ’n land soos Suid-Afrika maak dit nie sin dat hoendervleis nie deel van die mandjie is nie.”
De Wet het gesê tot dusver is so ’n kwytskelding verhinder deur probleme om die betrokke snitte wat veral deur lae-inkomstehuishouding gekoop word, duidelik te kan definieer.
Thindisa het gesê gesprekke om die mandjie van BTW-vrye produkte te vergroot, duur voort. “Ons meen daar behoort meer produkte daarin wees, as deel van die maatskaplike verligtingspakket.”
De Wet het gesê dit is in die algemeen en ook vir die landbou gunstig dat die brandstof- en padongelukkefondsheffings nie verhoog is nie. Net so is dit goeie nuus vir die suikerbedryf dat die gesondheidsbevorderingsheffing nie verhoog is nie.
Kalaba het gesê laasgenoemde was “die sinvolle opsie”.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.