‘n 80 jarige boer van die Bethlehem-distrik en sy 79 jarige vrou was Sondag (29 Augustus) die slagoffers van drie gewapende rowers, sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
Sers. Majang Mosupa sê mnr. Dirk Cornelius Odendaal en sy vrou, Sophia Aletta, van die plaas Verdun buite die dorp is aangeval nadat hulle van die kerk af by die huis aangekom het.
Me. Odendaal is eerste oorval terwyl sy oppad was om die kombuisdeur oop te sluit. Sy het om hulp geskree en mnr. Odendaal, wat glo hul voertuig in die waenhuis getrek het, het na haar gehardloop. Die mans het hom ook oorval en aangerand.
Volgens Mosupa het die vermeende aanvallers messe gehad. Hulle het die twee bejaardes aangerand en hulle beveel om die kluis oop te sluit. ‘n Pistool en R6 000 is gesteel.
Toegesluit in koelkas
Die mans het die egpaar in ‘n koelkamer naby die huis toegesluit en die deur met draad vasgemaak. Hulle het met die Odendaals se voertuig op die vlug geslaan.
Mnr. Odendaal het die middag daarin geslaag om die koelkamer se deur oop te breek, waarna hulle familielede geskakel het, wat die Polisie ontbied het. Die egpaar word in ‘n plaaslike hospitaal behandel.
Die Polisie doen ‘n beroep op lede van die gemeenskap om hulle in kennis te stel as hulle enige inligting oor die voorval het of die Odendaals se voertuig gewaar. Dit is ‘n rooi Bantam-bakkie, registrasienommer: DHD 398 FS. Lede van die publiek kan hulle naaste polisiestasie of amptenaar Gert van der Merwe skakel op 079 498 4880.
30 Augustus 2010