Die uitbreking van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal veroorsaak kommer binne die melkbedryf, sê die Melkprodusente-organisasie (MPO). Mnr. Dean Kleynhans, die voorsitter van die MPO, sê die aankondiging van die uitbreking, plaaslik en internasionaal, plaas die suiwelmark onder geweldige druk omdat Suid-Afrika ’n netto uitvoerder van melkprodukte is.
“Indien die uitvoer van melkprodukte gestaak sou word, gaan dit lei tot ’n ooraanbod in die land, wat die winsgewendheid van die boer op die plaas ernstig kan knou. Dié moontlikheid maak ons geweldig bekommerd”, vertel Kleynhans.
Protokol nie gevolg
Kleynhans sê me. Tina Joemat-Pettersson, die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het met haar aankondiging vroeër die week nie die protokol gevolg wat tydens die vorige uitbreking van dié siekte in die land opgestel is nie.
“’n Ander verskynsel wat ons onrustig stem, is dat die minister nie met die bedrywe gepraat het voordat sy die aankondiging gedoen het nie. Hierdie uitbreking is tot die noorde van KwaZulu-Natal beperk, maar raak nou ook ’n melkboer in Alexanderbaai of aan die Suidkus.”
Wees versigtig
Mnr. Robin Barnsley, die voorsitter van Kwanalu, sê hulle is ook daaroor bekommerd dat die bedrywe nie behoorlik deur die departement oor die situasie ingelig is voor die inligting beskikbaar gestel is nie. Hy sê die uitbreking kom in die buffersone met Mosambiek voor, en soos hy verstaan, word meestal opkomende boere daardeur geraak.
Barnsley waarsku veeboere om vee wat tans vervoer word, behoorlik te bekyk en hul herkoms te bepaal voordat hulle die vee sommer op hul plase toelaat. Hy sê hulle is nie seker of die gebied waar die siekte voorkom, al behoorlik afgesluit is nie. Dit kan groot risiko’s inhou.
2 Maart 2011