
Die verbod is onmiddellik van krag en sal volgens ’n verklaring deur die departement binnekort deur min. Thoko Didiza in die Staatskoerant afgekondig word.
Dit volg nadat bek-en-klouseer vir die tweede keer vanjaar in Limpopo uitgebreek het. Laboratoriumtoetse het gewys dat ’n dier, vermoedelik van ’n voerkraal naby Dendron in die munisipaliteit Molemole, positief getoets het vir die siekte. Molemole is in die distrik Capricorn in die bek-en-klou-vrye sone van Suid-Afrika, maar grens aan die distrik Vhembe waar die eerste uitbreking vroeër vanjaar was.
Luidens die verklaring is die plaas waar die siekte uitgebreek het onder kwarantyn en word omliggende gebiede gemonitor om te sien of daar verdere besmetting is.
Die departement sê alle beheermaatreëls vir die siekte is steeds gereed en dat Suid-Afrika se handelsvennote hopelik ooreenkomste wat ná die Januarie-uitbreking bereik is, sal handhaaf.
Boere word aangemoedig om streng biosekerheidsmaatreëls te volg. Enige verskuiwing van vee moet onder die toesig van veeartse geskied en verkieslik beperk word.
Boere moet aandring op bewyse van die gesondheidstatus van diere wat hulle na hul plase wil bring voordat diere verskuif word. Die departement beveel aan dat boere wat diere koop, ’n gesondheidsertifikaat aanvra van die kudde waaruit die diere kom om te bevestig dat die kudde geïnspekteer is en dat die diere van ’n gebied af kom wat nie deur bek-en-klouseer geraak word nie.
Die siekte word versprei deur die beweging van diere. Sonder beheer oor die vervoer van vee kan die siekte dus oor groot afstande versprei word. Alle veeboere moet op hul hoede wees en enige verdagte gevalle by hul staatsveearts of ’n private veearts aanmeld.
Die departement glo dat die uitbreking vinnig hokgeslaan kan word deur goeie samewerking tussen alle partye.