“Indien Suid-Afrika oorgaan na verpligte inenting vir bek-en-klouseer buite gebiede waar die siekte reeds as endemies gekategoriseer word, kan daar heel moontlik minder uitvoergeleenthede wees as vir ’n land wat nie sulke verpligte inenting het nie,” sê mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum.
Schutte sê om só ’n stelsel in Suid-Afrika te laat werk, is baie navorsing nodig oor kapasiteit om ’n geskikte entstof in voldoende hoeveelhede te ontwikkel en te vervaardig. Vryemarkbeginsels sal ook ’n deurslaggewende rol moet speel in die sulke ontwikkeling, vervaardiging, bemarking en verspreiding.
Hy sê só ’n intentingsproses sal Suid-Afrika “in die posisie plaas om enige potensiële toekomstige bek-en-klouseer-kwessies beter te hanteer”.