
Die staat en die polisie het nog nie padblokkades opgerig nie. Daarom het die plaaslike boereverenigings begin om die gebied wat onder kwarantyn is, af te sper, sê adv. George Galloway, voorsitter van die Harrismith-boerevereniging. Dit sluit die meentgrond, die nabygeleë EAC-voerkraal en twee omliggende plase binne die omtrek van 3 km rondom die uitbreking.
“Ons betaal uit ons eie sak vir die veiligheidsbeamptes en die ontsmettingsmiddels vir voertuie, en beman self beheerpunte om die vervoer van diere uit die gebied te probeer stopsit,” sê Galloway.
Intussen het die Voerkraalvereniging aangebied om die kommunale varkboere te vergoed vir die 48 varke wat vandag van kant gemaak word, sê Galloway.
Daar was sowat 200 beeste op die meentgrond en hulle is reeds deur die staatveearts op Harrismith ingeënt. Die beeste in die voerkraal sal volgens Galloway waarskynlik almal teen die einde van die dag ingeënt wees.
Boere in die omgewing word gemaan om geen diere met gesplete hoewe, ook varke, te vervoer sonder die nodige toestemming nie. “Varke is superverspreiders van die virus,” sê dr. Jack Armour, bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou. Hy het sy kommer uitgespreek dat as siek diere via die nabygeleë Qwaqwa hul weg na Lesotho vind, waar daar geen beheermaatreëls is nie, sal bek-en-klouseer na die Oos-Kaap versprei.
Einde van die verbod?
Mnr. Reggie Ngcobo, woordvoerder vir die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het vanoggend aan Landbou.com gesê dat daar voor die einde van die week besluit sal word of die verbod op die verskuiwing van beeste verleng moet word. Dié besluit sal geneem word volgens die inligting wat die departement van veeartse ontvang.
Die departement het verlede week aangedui dat die verbod moontlik opgehef sal word in die Noord-, Wes- en Oos-Kaap waar bek-en-klouseer nog nie aangemeld is nie. Hierdie aankondiging het uiteenlopende reaksies uit die bedryf ontlok met sommige wat meen dat dit broodnodige verligting vir veeboere sal bring terwyl ander meen dat dit nadelig kan wees vir die regering se pogings om die uitbreking te bestuur.
Hoekom is daar nie onmiddellik opgetree nie?
Vrystaat Landbou (VL) vra in ’n brief aan dr. TJ Masiteng, hoof van die Vrystaatse departement van landbou, dat die uitbreking by Harrismith as ’n noodsituasie hanteer word. VL sê volgens sy inligting is die bevestiging van die positiewe toetsing vir bek-en-klouseer deur die staatsveeartse reeds op 30 Augustus deurgegee. “Dit moes gebeur het ’n paar dae nadat die voerkraal simptome aan sy veearts gerapporteer het en bloedtoetse gedoen is. Dis onaanvaarbaar dat behoorlike padblokkades en dringende optrede nog nie plaasgevind het nie,” lui die brief.
Omdat daar nog nie padblokkades opgerig is nie, kon boere wie se beeste op die meentgrond loop, en wat geweet het dat daar positiewe gevalle by die voerkraal aangemeld is, intussen hul diere verskuif het. Die gebied word deur ’n kort stukkie pad verbind aan die kommunale gebiede van Tshiame. Van Tshiame al die pad tot in Phuthaditjhaba behoort die grond aan opkomende boere.
“Hierdie roete moes dadelik versper gewees het as ’n saak van dringendheid,” lui Vrystaat Landbou se brief wat deur mnr. Gernie Botha, uitvoerende hoof, onderteken is.