
Daar is vroeër vermoed dat gevalle van die siekte in die distrik kan voorkom omdat diere daarheen vervoer is vanaf ’n plaas in die distrik Potchefstroom waar positiewe gevalle van bek-en-klouseer geïdentifiseer is.
’n Plaas in die distrik Frankfort word ook ondersoek vir ’n moontlike uitbreking van bek-en-klouseer. Dit volg ná die verkryging van kalwers van ’n veespekulant in Roodepoort. Dié toetse se uitslag is nog nie deur die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling bekend gemaak nie.
Noordwes se dieregesondheidsowerhede het vroeër vasgestel die vee wat onlangs by Potchefstroom met bek-en-klouseer gediagnoseer is, is op 18 Maart op ’n veiling in Potchefstroom verkoop. Diere wat op die veiling verkoop is, is na die distrikte Vanderbijlpark, Westonaria en Kempton Park in Gauteng, na die Vrystaat, en na die distrikte Ventersdorp en Potchefstroom in Noordwes vervoer.
Mnr. Thembeni Nxangisa, Vrystaatse LUR van landbou en landelike ontwikkeling, het Woensdag in ’n verklaring bevestig dat daar ’n uitbreking van bek-en-klouseer in die provinsie is wat verbind kan word met die verdagte bewegings van beeste vanaf Noordwes en Gauteng na die Vrystaat.
“Die toetse wat op die twee plase in Viljoenskroon uitgevoer het, het net een positiewe geval opgelewer. Die uitslae van toetse op monsters afkomstig van die ander plaas, was almal negatief,” het hy gesê. Nogtans is die twee plase onder kwarantyn geplaas om verdere verspreiding te voorkom.
Nxangisa het mense gevra om nie paniekerig te raak nie aangesien veeartsenykundige personeel op voetsoolvlak beheermaatreëls ingestel het om die verdere verspreiding van die siekte te voorkom. Hy het boere gevra om waaksaam te wees en as daar vermoed word dat ’n bees bek-en-klouseer het, moet dit onmiddellik by die naaste staatsveearts aangemeld word.
Bek-en-klouseer is ’n hoogs aansteeklike virussiekte by diere met gesplete hoewe – hetsy of hulle plaas- of wilde diere is. Die siekte het geen effek op mense nie en vleis van siek diere is veilig om te eet mits dit op die voorgeskrewe manier hanteer word.