
Die verbod is verlede Dinsdag in ’n verklaring aangekondig, en die verbod is verlede Donderdag in die Staatskoerant afgekondig.
Agri Oos-Kaap stel voor dat interprovinsiale bewegingsbeheer eerder toegepas word. Sodoende kan die staat sy aandag toespits op die uitbrekings in die gebiede wat daardeur geraak word.
Luidens ’n verklaring deur mnr. Brent McNamara, uitvoerende hoof van Agri Oos-Kaap, is die verbod op die verskuiwing van diere weens die uitbreking ’n impulsiewe reaksie en ’n “irrasionale maatreël” wat geneem is om te laat blyk dat iets gedoen word.
“Die werklikheid is dat die staat se veeartsenydienste ernstig misluk het om die jongste bek-en-klouseer uitbreking onder beheer te kry.”
Daar is tans nog geen aangemelde gevalle van die siekte in die Oos-, Noord-, en Wes-Kaap nie. Agri Oos-Kaap sê hy het al geruime tyd gelede gevra dat die nodige beheermaatreëls by provinsiale grense toegepas word om verspreiding te voorkom, asook om die nodige aandag te skenk aan geaffekteerde areas.
Dr. Vusi Rozani, Oos-Kaapse uitvoerende hoofdirekteur vir veeartsenydienste, het op 2 Augustus ’n direktief uitgereik waarvolgens alle diere wat na die Oos-Kaap vervoer word, ’n permit van ’n staatsveearts benodig.
“Die direktief, wat weens koste nie afgedwing is met padblokkades by provinsiale toegangspunte nie, is verwelkom aangesien dit die verskuiwing van beeste en ekonomiese aktiwiteit binne die provinsie toegelaat het, terwyl die risiko vir die verspreiding van die siekte beperk is.”
Die direktief is op 15 Augustus onttrek weens die nasionale beheermaatreëls wat verlede week afgekondig is.
Raadpleeg bedryf
Agri Oos-Kaap doen ook beroep op die minister om die belanghebbendes in die bedryf te raadpleeg vir betekenisvolle, toepasbare en praktiese maatreëls om bek-en-klouseer onder beheer te bring.
McNamara sê dit is onverstaanbaar hoekom erkende strukture soos Agri Oos-Kaap, die Oos-Kaapse dieregesondheidsforum en die provinsiale Rooivleisprodusente-organisasie nie geraadpleeg is voor die drastiese maatreëls wat die provinsie raak, geneem is nie.
Hy sê ondanks ’n verskuiwingsverbod kon nie daarin geslaag word om bek-en-klouseer binne geaffekteerde sones in te perk nie. Daarom verstaan hy nie hoe die landwye verbod vir 21 dae sal help nie.
“Indien daar nie fisieke beheerpunte opgerig word nie, sal net wetsgehoorsame produsente, wat nie die probleem is nie, by die maatreëls hou, terwyl problematiese produsente, spekulante en agente sal voortgaan om diere te verskuif sonder sanksies.”
Weens die verbod sal verbruikerspryse vir vleis in die Oos-Kaap aanhou styg, terwyl normale markkragte ontwrig word, en sommige in die bedryf bevoordeel word.
“Die nasionale verbod in sy huidige vorm sal slegs bydra tot die deurlopende verwoesting van die ekonomie en sal ’n ernstige impak hê op die kleiner belanghebbendes in die waardeketting.”
Hy waarsku dat die verskuiwing van slagdiere met ’n rooikruispermit onprakties en duur is, en nie doeltreffend uitgereik kan word deur die beperkte aantal private en staatsveeartse nie.
“Die maatreëls het ’n impak op dieresorg soos noodslag, die noodsaaklike vervoer van melkbeeste van afloopplase na melkplase en die vervoer van melkkalwers na uitgroei-aanlegte.”
Hy sê verkope wat nie kan voortgaan nie, is ’n ernstige slag vir produsente en opkomende boere, al word die nodige biosekerheidsmaatreëls by veilingskrale toegepas, selfs met veeartse wat die diere nagaan.