
Suid-Afrika het in die 16 jaar wat sy kaasmakers deelneem, nog altyd medaljes gewen.
Mnr. Kobus Mulder, die wêreldkaaskampioenskap se Suid-Afrikaanse koördineerder, is baie teleurgesteld én kwaad oor die situasie.
Mulder sê hy het dieselfde werkwyse as in al die vorige jare gevolg toe die beoordeling aanvanklik altyd in Brittanje, maar die afgelope paar jaar in ander lande soos die Kanariese Eilande, Spanje en Noorweë gedoen is.
Omdat Suid-Afrika al 18 jaar lank nie kaas na die Europese Unie mag uitvoer nie, doen Mulder elke jaar om ’n spesiale permit aansoek om kase te kan inskryf.
Die permit meld onder meer dat die kase nie deur owerhede geïnspekteer is nie en nie as uitvoer geag word nie. Ná die beoordeling is al die kase verbrand.
Vanjaar het hy ’n spesiale permit vanaf die Italiaanse owerhede ontvang, waarna die kaasmakers met groot sorg hul kase verpak en na Mulder in Kaapstad versend het, wat dit na Italië gestuur het.
Die probleme het begin toe die 16 kaasmakers se 103 kase in Italië aankom. Die veeartsenykundige owerheid het allerhande vrae gehad het, soos of die kase in goedgekeurde fabrieke gemaak is en geskik is vir menslike gebruik.
Mulder het ’n spesiale sertifikaat by die Suid-Afrikaanse veeartsenykundige owerheid verkry en gestuur, maar dit het nie gehelp nie.
Hy en die organiseerders het hierna vertoë gerig.
Die Italiaanse owerheid het gesê die beoordelaars mag die kase sien, daaraan vat en dit sny, maar dit nie eet nie.
Toe Mulder op 17 Oktober in Bergamo aankom, ’n dag voordat die beoordeling sou plaasvind, het hy die Italiaanse veeartsenykundige owerheid gekontak, wat gesê het hy mag die kase “sien”.
Hy het vyf beskikbare beoordelaars saamgeneem, in die hoop dat hulle die kase sou kon beoordeel.
Mulder het aan die betrokke amptenaar voorgestel dat die beoordelaars die kase net proe, en nie eet nie, maar hy het geweier.
Mulder het gesukkel om die presiese rede vir die weiering te kry, maar die amptenaar het uiteindelik gesê dit is bek-en-klouseer.
Mulder het nog verder probeer verduidelik, maar moes laatmiddag die aftog blaas en die kase daar los, met die amptenaar wat dit toe sou verbrand.
Hy wil alles in sy vermoë doen om soortgelyke probleme te voorkom met volgende jaar se beoordeling in Spanje.
Me. Rina Belcher van die bekroonde Belnori-boetiekkaasmakery sê Belnori het vanjaar agt kase ingeskryf, die meeste ooit.
“Ons almal se harte is stukkend. Ek was baie geskok oor wat gebeur het, en bitter teleurgesteld. Kaasmakers doen soveel moeite. Jy beplan maande voor die tyd, toets jou kase, en kyk dat alles reg is.”