Toetse word tans gedoen om te bepaal watter geenstam van die bek-en-klouseer-virus in Mpumalanga voorkom.
Me. Annette Steyn, die Demokratiese Alliansie se woordvoerder vir landbou, sê dr. Shadrack Moephuli, uitvoerende hoof van die Landbounavorsingsraad het Dinsdag (24 April 2012) die aankondiging in die Parlement gedoen.
Steyn het voor die portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye ’n vraag aan Moephuli gestel waarop hy geantwoord het dat ’n uitbreking tans in die beheersone in die provinsie voorkom.
Dit is tans nog onduidelik watter invloed dié uitbreking op die proses om die land se status as vry van bek-en-klouseer terug te kry, sal hê – veral omdat dit in ’n beheersone voorkom.
Onder beheer
Mnr. Wouter Wessels, woordvoerder vir dr. Pieter Mulder, Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, sê die departement is bewus van die uitbreking en dat die situasie onder beheer is. “Tans is hulle bewus van spesifiek twee gevalle en dit word ondersoek.”
Mnr. Selby Bokaba, woordvoerder vir die departement, sê die uitbreking kom in die beheersone teenaan die Krugerwildtuin voor. Hulle wag tans op verdere inligting.
Die LNR sê die uitbreking word in die Bosbokrand-omgewing ondersoek en meer inligting sal later bekend gemaak word.
24 April 2012