
Dit is onregverdig om naspeurbaarheid in Suid-Afrika met Namibië en Botswana te vergelyk, want Suid-Afrika se beesbedryf verskil hemelsbreed van sy buurlande s’n.
Mnr. Dewald Olivier, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging, het op die herkouerveterinêre vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa) se onlangse kongres in Gqeberha gesê daar word nie aldag besef hoe groot die taak is om ’n naspeurbaarheidstelsel vir Suid-Afrika te vestig nie. Suid-Afrika het ’n geskatte 14 miljoen beeste, en kulture wat anders te werk gaan met beeste.
Namibië het nagenoeg 2,37 miljoen beeste en Botswana 1,74 miljoen beeste.
Hy het gesê daar word al hoe meer besef dat ’n naspeurbaarheidstelsel aangepas sal moet word volgens wat by Suid-Afrika pas en nie wat in ander lande gebeur nie. In dié verband het Suid-Afrika reeds die nodige antwoorde.
Hy het gesê een van die ligpunte van die huidige bek-en klouseeruitbreking is dat Suid-Afrika se vee-identifikasie-en-naspeurbaarheidstelsel (LITS SA) versnel sal word. Hy beskou dit as “ ’n goeie krisis vir naspeurbaarheid”, want almal besef dat vinnig opgetree moet word.
Kort lankal aandag
Olivier het veeartse bedank vir hul bystand om die huidige bek-en-klouseeruitbreking hok te slaan. Anders as met vorige uitbrekings het tot dusver geen besmette diere in voerkrale beland nie, wat ’n goeie ontwikkeling is, tesame met die feit dat die uitbreking tot dusver gestuit kon word.
Volgens Olivier is die doel van LITS om ’n owerheid of databasis te skep waarmee diere geïdentifiseer en die gepaardgaande dokumentasie bestuur kan word.
“Die toepassing van LITS SA is nou versnel. Dit is iets gunstigs uit die chaos,” het dr. Alicia Cloete, ’n staatsveearts verbonde aan die departement van landbou, grondsake en landelike hervorming, in haar toespraak gesê.
Begin só
Olivier het gesê LITS SA is ’n staatsinisiatief om naspeurbaarheid vir die nasionale veebdryf daar te stel.
Belanghebbendes in die lewendehawebedryf wil egter deur die Suid-Afrikaanse lewendehawenaspeurbaarheid (South African Livestock Traceability of SALT) en die Rooivleisbedryfsdiens, albei organisasies sonder winsbejag, boere begin aanmoedig om naspeurbaarheid in hul boerdery in te voer sodat die bedryf gereed is wanneer die staat dit begin toepas.
Olivier se raad aan boere wat die eerste stap wil doen wat naspeurbaarheid betref, is om hul diere te begin identifiseer. Naspeurbaarheid begin dus by die boer.
“Die deel verder in die waardeketting wat die bedryf moet aanpak, is die standaard vir uitvoer, en naspeurbaarheid is een van die pilare.”
Olivier het gesê op kort termyn hou naspeurbaarheid meer voordele in vir die plaaslike mark.
Volgens Olivier is die doel van vee-identifikasie en naspeurbaarheid om programme vir die waarneming en bestuur van dieresiektes te verbeter. Naspeurbaarheid as sodanig sal egter nie siektes in hul spore stuit of uitbrekings van siektes soos bek-en-klouseer voorkom nie. Dit is egter onontbeerlik om die ontwrigting van veebemarking tydens ’n uitbreking te verminder.
Vertroue
Naspeurbaarheid verbeter die vertroue in Suid-Afrikaanse veeprodukte en bied toegang tot akkurate inligting met die oog op veediefstalsake, asook gehaltedata van lewende hawe wat deur ontwikkeling en besigheid ondersteun word.
Hy het gesê met naspeurbaarheid sal alle deelnemers in die waardeketting meer kan verdien. Met naspeurbaarheid sal ook beter aan die fitosanitêre vereistes vir hoëwaarde-uitvoermarkte voldoen kan word, wat uitvoer sal verhoog. Daar sal in geheel beter mededinging in die lewendehawebedryf wees.
Volgens Olivier is die uiteindelike mikpunt dat dié boere wat naspeurbaarheid in werking stel, deel sal wees van die formele kommersiële sektor. Die boere wat dit nie wil aanvaar nie, sal uitgesluit word.
“Ons mikpunt is prysstabiliteit en ’n toename in inkomste en betrokkenheid van die opkomende sektor.”