
Mnr. Douw Pelser, ondervoorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in Limpopo, sê hy sien baie vragmotors met beeste op die pad en wanneer hy vra of die eienaars permitte het, kry hy dikwels ontwykende antwoorde.
“Ons wil niemand van enigiets beskuldig nie, maar ons moet na ons bedryf omsien,” sê Pelser.
Daarom het die RPO in Limpopo in oorleg met veeartse en mnr. Willem van Jaarsveld van die Limpopo-dieregesondheidsforum ’n plaasbiosekerheidsprotokol saamgestel en onder die provinsie se boere versprei.
Die protokol kan as basis gebruik word, maar beskerm elke produsent tot die beste van sy/haar vermoë, sê mnr. Lukas Eksteen, voorsitter van die RPO in Limpopo, en Van Jaarsveld in ’n gesamentlike verklaring. “Dit kan egter nie 100% sukses verseker nie.”
Met die instelling van ’n landwye verbod op die byeenbring van vee is dit waarskynlik raadsaam vir alle boere, ook buite Limpopo, om klem te plaas op biosekerheid op hul plase.
Die RPO en die dieregesondheidsforum maak die volgende voorstelle.
Plaastoegangbeheer vir voertuie:
• Alle voertuie se bande moet ontsmet (gespuit) word met ’n ontsmettingsmiddel.
• Alle persone se skoene of voete moet ontsmet word met ’n ontsmettingspoeier óf ’n ontsmettingsmiddeloplossing.
• ’n Register van alle bewegings van voertuie kan terselfdertyd by die hek bygehou word.
Die bogenoemde produkte is beskikbaar by u plaaslike koöperasie.
Laai van diere:
• Dit word sterk aanbeveel dat beweging van diere tot die minimum beperk word.
• Indien diere wel verskuif moet word:
o Moet diere ten minste 28 dae op die plaas gewees het, en moes daar geen nuwe diere tot die trop toegetree het nie.
o Diere wat wel vervoer moet word, moet vergesel word van ’n artikel 6- en artikel 8-dokument (dokument van identifikasie en veeverwyderingsertifikaat).
o Alle diere moet gebrandmerk wees.
o Die diere moet vergesel word van ’n veeartssertifikaat waarop die oorsprong
en gesondheidstatus van die diere beskryf word.
• Alle vragmotors en waentjies moet skoon en droog wees met aankoms op die plaas.
• Voertuie se bande moet ontsmet word met aankoms.
• Bakoppervlakke van voertuie moet met ontsmettingsmiddel behandel word voordat diere opklim.
Algemene riglyne:
• Moet nie met jou werkskoene by jou bure of mede-produsente besoek aflê nie.
• Versoek landboubemarkers om veral húl skoene en voertuie deeglik te laat ontsmet.
• Verbied vreemde troeteldiere op jou plaas.
• Verbied enige persoon of besoekers toegang tot jou kraal.