
Die nasionale tesourie het oor die mediumtermynbestedingsraamwerk (MTBR) R495 miljoen aan die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling toegestaan om die land se biosekerheid op te skerp, asook om laboratoriums en kwarantynstasies te vernuwe om inspeksiedienste by grensposte te versterk. Dit sal die land se vermoë verbeter om aan internasionale standaarde te voldoen en die kans op uitvoer verhoog.
Die uitbreking van bek-en-klouseer in Januarie 2019 het daartoe gelei dat die land sy bek-en-klouseervrye-status verloor het. Die verlies weens hierdie uitbreking word op R10 miljard bereken. Die verlies weens die tweede uitbreking wat verlede November bevestig is, is nog nie bereken nie.
Mapisa sê die DA vra al lank dat genoeg geld beskikbaar gemaak word om die bestuur van bek-en-klouseer te verbeter.
’n Beroep word op me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gedoen om te druk vir aksie, veral aangesien haar departement misluk het om sy begroting vir heinings in die vorige boekjaar te bestee.
Mapisa vra dié dringende ingrypings:
- Daar moet verseker word dat die departement die R70 miljoen betaal wat hy aan die Landbounavorsingsraad skuld. “Dit sal verseker dat die Onderstepoort Veeartsenynavorsingseenheid vinnige en doeltreffende diens aan boere kan lewer.”
- Die begroting van provinsies vir die bekamping en voorkoming van siektes moet hersien word en die departement moet die naspeurbaarheidstelsel van vee invoer.
- Gebiede waar bek-en-klouseer voorkom, moet duidelik gemerk word sodat boere en handelaars geen verskoning het om nie by die reëls vir die spesifieke sone of gebied te hou nie.