
Die Wagyubedryf het ’n voordeel bo die res van die rooivleisbedryf danksy die Certified Wagyu Beef-program wat naspeurbaarheid waarborg en dit moontlik maak om ’n kalf te volg vandat hy gebore word tot hy geslag word.
So het mnr. Johan de Vos, voorsitter van die Wagyu-telersgenootskap, gesê tydens ’n inligtingsdag wat Dinsdag (12 April) in die Paarl aangebied is.
“Daar is tydens ’n onlangse vergadering uitgewys dat Wagyu die ander beesrasse in terme van naspeurbaarheid vooruit is en dat dit die enigste manier is ons diere te kan bestuur. Ons moet weet waar diere vandaan kom om die onwettige verspreiding van bek-en-klouseer te voorkom.”
Ongelukkig bestaan die plaaslike Wagyubedryf nie in afsondering van die res van die land nie en is daar sommige uitvoermarkte wat reeds aangedui het die uitbrekings van bek-en-klouseer, waarvan daar tot dusver reeds volgens die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling 56 bevestigde gevalle in Suid-Afrika is, vir hulle kommerwekkend is.
“Ons is dus ander rasse voor wat naspeurbaarheid betref, maar ons kan ons nie losmaak van die wyer Suid-Afrikaanse probleem nie. Gelukkig het ons ’n sterk binnelandse mark ontwikkel. Ons is op meeste supermarkte se rakke en goeie restaurante bedien ons vleis.”
Die druk wat verbruikers tans op hul beursies voel, het volgens De Vos nie ’n demper op die vraag na hul produk geplaas nie. “Ek kan nie ’n Wagyu T-been opeet nie. ’n Mens eet dit in kleiner porsies en dit is ’n totaal ander, beter eetervaring. Dit is ook veel gesonder danksy die poli-onversadigde vet.”
Me. Elandri de Bruyn, hoof- operasionele bestuurder van die Wagyu-telersgenootskap, sê aangesien Wagyuvleis ’n nisproduk is, is mense wat dié vleis graag wil eet bereid om meer daarvoor te betaal.
Daar is reeds 1 452 Wagyukarkasse gedurende die eerste drie maande van vanjaar geslag – meer as wat daar in totaal in 2020 geslag is. Daar sal na beraming vanjaar 6 000 Wagyukarkasse geslag word. De Vos sê hy voorsien ’n tekort mits uitvoere kan voortgaan.