
Só het dr. Mike Modisane, hoofdirekteur van diereproduksie en -gesondheid van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gesê.
Die departement het ’n virtuele voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gedoen oor die stand van dieresiektes in die land.
Modisane het verduidelik daar word tans nie by die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) aansoek gedoen om die status terug te kry nie, want die slag van nagenoeg 5 000 diere in die munisipale distrik van Molemole in Limpopo is nog nie afgehandel nie.
Daar was in Januarie 2019 ’n uitbreking in die distrik Vhembe in Limpopo in die toesiggebied van die bek-en-klouseer-sone, wat reg langs die beskermingsone geleë is. Die uitbreking is by die OIE aangemeld en Suid-Afrika het sy bek-en-klouseervrye status verloor, wat op 2 Januarie 2019 in werking getree het.
In September 2019 was daar ’n uitbreking in Bende Mutale, Limpopo, en in November 2019 by Molemole, ook in Limpopo. Die uitbreking in November word verbind aan verkope op ’n veiling in die distrik.
Suid-Afrika se verlies weens die uitbreking aan die begin van 2019 word op meer as R10 miljard beraam. Die verliese weens die verdere uitbrekings is nog nie bereken nie.
In Maart vanjaar was daar ’n uitbreking in ’n beskermingsone in Bushbuckridge, Mpumalanga. Die diere in dié gebied is in November 2019 ingeënt.
Entstof
Dit is bekend dat Suid-Afrika sy entstof teen bek-en-klouseer van Botswana bekom. Volgens Modisane is daar egter in sekere gevalle gevind dat die virus wat die uitbreking veroorsaak, nie behoorlik deur dié entstof gedek word nie. Dit skep groot probleme wat die bekamping van bek-en-klouseer betref.
Die Landbounavorsingsraad (LNR) het egter weer kapasiteit om entsof te vervaardig. Die LNR het vroeër aangedui dat hy 60 000 dosisse entstof vir elk van die drie stamme van die virus vervaardig het.
Die LNR moet nog 200 liter fermenteerders aankoop, en sal dan 500 000 dosisse entstof kan vervaardig wat nodig is vir die roetine-inenting van beeste in Limpopo en Mpumalanga.
Afrika-varkpes
Afrika-varkpes kom vir die eerste keer in Suid-Afrika in die distrik Amathole in die Oos-Kaap voor, het Modisane gesê. “Dit is moeilik om die siekte te bekamp, want dit kan ook versprei van vark tot vark en van wilde varke tot varke. Dit kan ook deur bosluise oorgedra word.”
Hy het gesê die uitbreking hier kon nog nie gestuit word nie, maar daar is ’n afname in vrektes in die gebied. Uitbrekings duur ook voort in Mpumalanga, en daar is ’n nuwe uitbreking in Gauteng. Die uitbrekings in Noordwes en die Vrystaat is onder beheer gebring.
Covid-19-impak
Om die impak van die Covid-19-pandemie te versag, moes begrotingsbesnoeiings by die departement plaasvind. Dit het meegebring dat die reeds knap begroting vir veeartsenydienste verder besnoei is. Dit het ’n groot uitwerking op provinsies se vermoë om voortslepende uitbrekings doeltreffend te bekamp. Die reisbegroting vir veeartsenydienste in Limpopo is met 80% besnoei om vir Covid-19-finansiering voorsiening te maak. Boonop is reise beperk en amptenare kan nie op die plase kom om die huidige bek-en-klouseer-situasie te monitor nie. Die roetine-beheermaatreëls soos inenting en inspeksies kan nie volledig gedoen word nie weens die beperkte begroting en reisbeperkings. Dit verhoog die risiko van nóg ’n bek-en-klouseer-uitbreking, met die risiko dat dit die vrye sone kan binnedring as die vroeë opsporing van die siekte bemoeilik word, het Modisane beklemtoon.