
Só waarsku mnr. Angus Williamson, voorsitter van die KwaZulu-Natalse Rooivleisprodusente-organisasie. Hy sê die betrokke veeprodusente steun pogings van die regering se veeartsenykundige amptenare op grondvlak om die omvang van Suid-Afrika se jongste bek-en-klouseer-uitbreking te identifiseer en bestuur.
Hulle is egter bekommerd dat die beweerde stadige verwerking van toetsmonsters by Onderstepoort Veeartsenykundige Instituut en die gebrek aan kommunikasie en sigbare leiding van hooggeplaastes om die uitbreking te stuit, tot ’n onnodige verlenging van die kwarantyn kan lei.
“Dit is baie frustrerend vir veeprodusente in die kwarantyn-gebied wat diere gereed het om te verkoop, veral die voerkrale, en hulle sukkel nou om geld te kry om die diere aan te hou voer.
“Die beperkings geld vir vee-eienaars op alle produksieskale. Vir sommige is die verkoop van diere hul enigste inkomste om hul rekeninge te kan betaal.”
Skiet tekort
Williamson sê as die toepasser en bestuurder van regulasies en beheermaatreëls vir diergesondheid was dit die regering se verantwoordelikheid om te sorg dat genoeg staatsveeartse dringend voerkrale en ander veeprodusente in die tydelike kwarantynsone, wat diere gereed het om te verkoop, besoek en inspekteer.
Diere wat nie tekens van bek-en-klouseer toon nie, moet goedgekeur word om buite hierdie sone verkoop te word. Daarbenewens moet staatsveeartse by abbatoirs geplaas word, waar hulle dadelik die slagting van diere wat vry van bek-en[1]-klouseer geïdentifiseer is, kan goedkeur.
“Mense vra wat aan die gang is. Selfs ’n beampte van die padverkeersinspektoraat met wie ek nou die dag op die grens van die tydelike kwarantynsone gepraat het, het gesê dat hy geen amptelike instruksies gekry het om voertuie te laat omdraai wat volgens hom vee uit of binne die sone vervoer nie,” het hy gesê.
Opsetlik oortree
Mnr. Peter-John Hassard, voorsitter van die KZN Landbou-unie en self ’n vleis-en-wildboer binne die kwarantynsone, het reeds berigte ontvang van vee-eienaars wat opsetlike bewegingsbeperkings oortree het omdat hulle geld dringend nodig het of omdat die seisoen vir die slag van diere tydens tradisionele seremonies op hande was.
Dr. Mpho Maja, hoof van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se direktoraat dieregesondheid, sê in ’n vorderingsverslag oor dié uitbreking die siekte is die eerste keer op 27 Mei by ’n gemeenskaplike diptenk binne die Mtubatuba plaaslike munisipaliteit bevestig. Vee-eienaars in die King Cetshwayo- en Umkhanyakude-distriksmunisipaliteite en in die plaaslike munisipaliteite van Nongoma, Ulundi en Pongola is dadelik in kennis gestel om alle verskuiwing van diere met gespelte hoewe en hul produkte in, uit en deur hierdie munisipale gebiede tydelik te staak.
Omvang breër?
Maja skryf in haar verslag dat die siekte op 18 Junie in vier kommunale diptenkgebiede bevestig is. “Aangesien hierdie kommunale weidingsgebiede is, kan meer diptenks in dieselfde gebiede waarskynlik geraak word. Tot dusver (op 21 Junie) is altesaam 12 555 sera-monsters (van vee) uit 353 (kommunale) diptenkgebiede versamel,” lui haar verslag.
Sy voeg by dat dieregesondheidsowerhede se ondersoek na die oorsprong en potensiële verspreiding van dié spesifieke uitbreking voortgaan, en dat die owerhede ook voortgaan om Zoeloeland se vee-eienaars bewus te maak van die bedreigings wat dié ekonomies belangrike siekte inhou.