
Dit sluit kommersiële veeplase, ’n kommunale plaas, voerkrale en abattoirs in. Al die persele is in Limpopo geleë met geen ander provinsies wat tot dusver geraak is nie.
Van die persele is geïdentifiseer nadat kliniese tekens by vee voorgekom het, terwyl die meeste geïdentifiseer is ná goeie opvolg- en nasporingswerk. Al die persele waar bek-en-klouseer voorkom, word aan veilingverkope of deur beweging vanaf besmette plase verbind.
Verskeie kliniese tekens kom op die verskillende persele voor. By sommige persele het die vee slegs klousere, terwyl ander net kliniese tekens van die bekende beksere het.
Al die persele is onder kwarantyn geplaas en gespletehoefdiere mag nie van die persele beweeg nie. Streng biosekerheidsmaatreëls is ingestel op al die persele wat onder kwarantyn geplaas is, om die verspreiding van die siekte te verhoed. Kliniese ondersoeke van al die gespletehoefdiere op al die betrokke eiendomme word uitgevoer om die voorkoms van die siekte te bepaal. Geen nood-entstowwe word toegedien nie.
Die departement sê die virus wat vir die jongste uitbreking verantwoordelik is, is ’n SAT 2-serotipe, wat naby verwant is aan die virus wat verantwoordelik was vir die uitbreking in Januarie vanjaar. Dit is ook verwant aan uitbrekings in die bek-en-klouseergebied in Mei en Augustus 2018. Die presiese bron van die uitbreking is nog nie bepaal nie, maar die vermoede bestaan dat die onwettige beweging van gespletehoefdiere vanuit die bek-en-klouseer beheerde gebied die virus na die bek-en-klouseervrye gebiede geneem het. Daarna het die siekte versprei deur gewone, wettige beweging van die diere.
Handelsimplikasies
Nadat Suid-Afrika sy bek-en-klouseervrye status in Januarie 2019 verloor het, is ooreenkomste met handelsvennote aangegaan vir die uitvoer van veilige kommoditeite, wat hittebehandelde vleis en suiwelprodukte, ontbeende en verouderde rooivleis, wol, gesoute huide en velle en vee-embrio’s insluit. Die grootste gedeelte van die land se handelsvennote het tot dusver die onderhandelde ooreenkomste behou, gegrond op die waarborge wat verskaf is vir die verwerking van kommoditeite om die virus te deaktiveer. Volgens die verklaring is Suid-Afrika ook vol vertroue dat hy die veiligheid van sy varkprodukte vanaf bek-en-klouseervrye kompartemente sal kan sertifiseer.