
Volgens die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se nuutste verslag oor die voortslepende uitbrekings van bek-en-klouseer is daar tans 120 aktiewe gevalle van dié siekte in KwaZulu-Natal, 7 in Limpopo, 17 in Noordwes, 4 in Gauteng, 40 in die Vrystaat en 1 in Mpumalanga.
Die Noord-, Wes- en Oos-Kaap is steeds die enigste provinsies waar bek-en-klouseer nog nie aangemeld is nie.
Beperkings op die vervoer van beeste, skape en bokke in die twee siektebeheergebiede in KwaZulu-Natal en Limpopo geld steeds. Indien boere vee in, deur of vanuit dié gebiede wil vervoer, moet hulle hul plaaslike veearts kontak om te bevestig of die vervoer van vee toegelaat sal word en onder watter omstandighede.
Hoewel daar elders in Suid-Afrika nie vervoerbeperkings is nie, moet eienaars die nodige dokumentasie verskaf om die diere se gesondheid en oorsprong te staaf, asook eienaarskap van die vee te bewys. Die ontvanger van die vee moet ook skriftelik onderneem om die diere vir 28 dae in kwarantyn te hou.
Volgens die departement is alle geaffekteerde plase en voerkrale in Noordwes, die Vrystaat, Gauteng en Mpumalanga steeds onder kwarantyn met streng toegangsbeheer. Die betrokke persele is volgens die departement ordentlik omhein en die vervoer van diere vanaf die persele kan doeltreffend beheer word.
Geaffekteerde persele in KwaZulu-Natal en Limpopo is steeds onder kwarantyn en geen vee met gesplete hoewe of hul produkte mag dié persele verlaat nie.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.