
Om die verdere verspreiding van bek-en-klouseer in Suid-Afrika te bekamp het me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Woensdag nuwe grense vir die twee siektebestuursones in Limpopo en KwaZulu-Natal afgekondig.
In Limpopo word die munisipaliteit Collins Chabane en die munisipaliteit Thulamela wat noord van die bestaande siektebestuursone lê, nou daarby ingesluit.
Die gedeeltes van die groter distrik Giyani, groter distrik Letaba en die distrik Molemole wat noord van die R36 lê – waar dit by die N1 na Mooketsi aansluit al langs die R81 tussen Mooketsi en Giyani van Mooketsi af tot waar die pad die Klein-Letabarivier oorsteek -- en vandaar tot by die Krugerwildtuin se heining, is deel van die bek-en-klouseerbeheersone.
Die gedeeltes van die munisipale gebiede Makahado en Munina wat ingesluit is, is oos van die N1 vanwaar dit die R36 kruis, asook die Musina-natuurreservaat al met die reservaat se heining langs tot waar dit die Venetiamyn se pad kruis, van daardie punt tot by die R521 en dan langs die R521 tot by die Pont Drift-grenspos. Die noordelike grens van die nuwe siektebeheersone is die noordelike landsgrens van Pont Drift af tot by die Krugerwildtuin se heining.
KwaZulu-Natal
In KwaZulu-Natal sluit die siektebeheergebied nou ook die hele distriksmunisipaliteit Umkhanyakude in, wat bestaan uit die plaaslike munisipaliteite Jozini, Umhlabuyalingana, Big Five Hlabisa en Mtubatuba.
Die hele distriksmunisipaliteit King Cetshwayo, wat bestaan uit die plaaslike munisipaliteite uMfolozi, uMhlathuze, uMlalazi, Nkandla en Mthonjaneni, is ook deel van die siektebeheersone.
Die hele Hluhluwe Imfolozipark is hierby ingesluit, asook die hele plaaslike munisipaliteite Nongoma en Ulundi, asook die deel van die munisipale gebied van Pongola wat oos van die R66 en suid en wes van die N2 lê, en ook die deel wat oos van die N2 en suid van die P522 na Jozini lê.
Die volgende gedeeltes is ook deel van die provinsie se siekte-beheersone: die gedeelte van die munisipaliteit Maphumulo in die distrik Ilembe wat oos van die R74 lê; die gedeelte van die munisipaliteit Ndwedwe wat oos van die R74 en noord van die P110 lê; die deel van die munisipaliteit KwaDukuza noord van die P110; die deel van Mandeni noord van die P110 en oos van die R102; die deel Ilembe noord van die Tugelarivier en wes van die R102; die porsie van die munisipaliteit Umvoti wat oos en noord van die R74 en oos van die R33 lê; asook die deel van die munisipaliteit Msinga wat oos van die R33 en suid van die Tugelarivier lê.
In die Staatskoerant van 10 Mei sê Didiza dat geen gespletehoefdiere, verwante diereprodukte of teelmateriaal na of van hierdie gebiede vervoer mag word sonder ’n permit nie. ’n Staatsveearts moet diere of produkte wat uit hierdie gebiede vervoer word, inspekteer en seker maak daar is geen risiko vir die verspreiding van bek-en-klouseer as gevolg van die vervoer van die diere of produkte nie.