
’n Bekende in jag- en vuurwapenkringe, mnr. Carel Wolhuter (71), wat tot sy aftrede in 2013 die uitvoerende hoof van die ammunisievervaardiger Denel PMP was, is onlangs oorlede.
Wolhuter het op Woensdag 11 Mei nog die oggend in sy tuin gewerk voordat hy later die dag ’n hartaanval gehad het. Hy is in die hospitaal opgeneem waar hy ’n paar daar later aan ’n beroerte dood is.
PMP sê in ’n verklaring Wolhuter het op 1 Julie 1995 by die finansafdeling van PMP begin werk en is sewe maande later tot uitvoerende hoof bevorder. Hy het meer as 17 jaar daar gewerk voor hy op 13 Oktober 2013 afgetree het.
“Hy sal onthou word vir sy passie, toewyding en bydrae tot Denel PMP oor hierdie jare,” sê mnr. MP Petje, huidige uitvoerende hoof. Hy het sy medelye betoon met Wolhuter se vrou, Lydia, twee seuns, ’n dogter, kleinkinders, ander familielede en vriende binne en buite die ammunisiebedryf.
André van Dyk, redakteur van die jagtydskrif Wildland, wat Wolhuter jare lank geken het, sê hy was ’n baie aktiewe mens en goeie tennisspeler. “Hy was 71 jaar oud, maar het so voluit geleef dat hy omtrent 100 jaar ingepas het in dié tydperk.
“Hy was baie lief vir Namibië waar hy gebore is. Hy het ’n padkaart van die land gehad waarop hy elke paadjie waarop hy al gery het, aangedui het. As ons mekaar gesien het, het hy altyd gewys op watter nuwe pad hy gery het. As ’n mens iets van Namibië wou weet, kon jy net vir Carel bel. Ek het op ’n keer die voorreg gehad om saam met hom in Namibië te kon jag. Hy was ’n groot jagter.”
André, wat tot in 2013 die redakteur van SA Jagter/Hunter was, sê Wolhuter het PMP van geldelike ondergang gered het nadat hy as uitvoerende hoof aangestel is. “Hy was jagters baie goedgesind en het PMP-skietdae reg deur die land gereël waar hy met hulle kontak gehad het.”
Huldeblyke is ook van ander wapen- en ammunisie-ondernemings ontvang.
Die personeel van Nobleteq Arms and Ammunition sê dit was met groot hartseer dat hulle van sy dood verneem het. “Hy was baie bekend in die bedryf en hy sal deur baie gemis word. Ons wil ook ons innige meegevoel aan sy gesin en ander familielede oordra,” sê hulle in ’n verklaring.