
“Ek kan nie net hoop nalaat nie,” sê 'n bekroonde swart boer wat nie die plaas waarop hy boer, by die Regering kan koop nie.
Ten spyte daarvan dat mnr. André Cloete, ’n suksesvolle swart boer van Greyton, die afgelope ses jaar sy vrugte-boorde bykans kon verdubbel én banklenings terugbetaal, sukkel hy steeds om die Regering te oortuig om sy plaas, Klein Ezeljacht, aan hom te verkoop of selfs oor die langtermyn aan hom te verhuur.
Cloete het tydens die Stellenbosse Woordfees, waar hy aan die Megaboere-gesprekreeks deelgeneem het, vertel hoe hy steeds sy grond op ’n vyf jaar-grondslag moet huur.
“Wat die toekoms van grondhervorming te betref, het jy nie ’n voet om op te staan as jy nie ’n plaas besit nie. Jy word eintlik vasgevang in ’n tipe opkomendheid,” het hy aan sy gespreksgenote, proff. Mohammad Karaan, dekaan van die fakulteit landbouwetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch, en Johann Kirsten, hoof van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek op Stellenbosch, gesê.
* Lees ook: ‘Sonder titeklaktes bly swart boere niks’
Cloete het met 20 ha vrugte begin boer en danksy die vrugtebedryf se Boompie-projek 'n verdere 18 ha gevestig. Hy boer ook met skape en ’n klompie beeste. Hy het destyds die kans gekry om die plaas deur die Regering se Proaktiewe Grondverkrygingstrategie (PLAS) te huur. Hulle wou nie roerende bates finansier nie en hy moes ’n vennoot vind, saam met wie hy geld by ’n kommersiële bank kon gaan leen.
“Ek het geen kapitaliseringshulp tot dusver ontvang nie. Ek sit steeds met ’n vyfjaarhuurkontrak; die 30 jaar-kontrak waarvoor ek aansoek gedoen het, is nog in proses.” Dit het hom egter nie gekeer om langtermyngewasse te vestig nie.
“Ek móés vestig, want 20 ha kernvrugte is te klein. Ek was gelukkig om in goeie jare in die bedryf te wees. Ek moes hare op my tande hê om daardie besluit te neem en te sê ons gaan nog vestig, want as ons dit nie gedoen het nie, sou ek nie vandag hier kon sit as ’n suksesvolle boer nie. Jy moet maar hoop en glo die common law beskerm jou as jy op ’n punt kom waar jy nie die huurkontrak kan hernu nie,” het Cloete, wat as die kind van plaaswerkers in die Grabouw-omgewing grootgeword het, gesê.
Deur by ’n kommersiële bank aan te klop, was sy motivering soveel groter om suksesvol te wees sodat hy die geld kon terugbetaal.
Bereid om plaas by Regering te koopHy is bereid om die plaas by die Regering te koop teen die waarde waarvoor hulle dit destyds aangekoop het. As die plaas vandag gewaardeer moet word, is dit baie meer werd, maar hy glo dis deur sy verbeteringe en uitbreidings. Grond in sy omgewing kos tans sowat R800 000/ha.
“Huur is ’n goedkoop opsie, maar my uitgangspunt is om grond te wil besit. Ek het drie seuns vir wie ek iets wil nalaat. Ek kan nie net hoop nalaat nie.”
Hy glo die Regering se inisiatiewe moet daarop gemik wees om opkomende boere so gou as moontlik te help tot op kommersiële vlak sodat hulle vir hulself kan help.
“Banke moet ook deel wees van die proses. Wit boere het destyds ’n stelsel gehad waardeur hulle lenings teen laer rentekoerse kon kry nie. Hoekom is daar nie meer so iets nie, sodat ’n opkomende boer van sy oordrag (grant) af dadelik na ’n laer rentekoers-lening kan beweeg?”
Keuring van voornemende boereAs Cloete grondhervorming in Suid-Afrika moes dryf, sou hy veral aandag gee aan die keuring van voornemende boere. “Jy moet seker maak of hy regtig wil boer en of hy ’n bydrae gaan maak tot die land se ekonomie. Hoeveel werkskepping gaan hy doen of gaan daar werksverliese wees?”
Hy sal ook ’n tydraamwerk met ’n behoorlike moniteringstelsel voorstel. “Landbouvoorligters behoort ’n massiewe rol te speel ten opsigte van opkomende boere.”
Laastens sou hy samewerking tussen die onderskeie regeringsdepartemente bevorder het. “Die twee departemente moet bymekaar kom, want hulle het een visie en missie.”
Karaan het saamgestem dat eers op die mens, en dan op die grond, gefokus behoort te word. “As jy die regte mens in plek het, sal hy die grond kan benut. Dis jammer ons het nie ’n stelsel wat mense voorberei om grond goed te kan benut nie. Ek glo ’n boer word gebore, nie gemaak nie.”
'Plaasjong kan baas word'Hy sê Cloete het gedemonstreer dis moontlik vir die “plaasjong om baas te word”.
“Vir ’n slaaf om ’n koning te word en vir die koning om weer ’n slaaf te word. Dis moontlik vir ’n kind wat op ’n plaas grootgeword het, saam met alles wat daarmee gepaard gaan, om uit te styg. Dís Suid-Afrika se verhaal van hoe verdrukking tot sukses kan lei. Maar dis krities dat hy van die staat se kant af ondersteun moet word.”
Karaan sê verskeie van die sogenaamde “megaboere” het ook van niks af begin nie, en in hul eie leeftyd baie suksesvol geraak.
“Dis een miskonsepsie by die Regering dat dit die apartheidstelsel is wat wit boere suksesvol gemaak het. Ek het destyds by prof. Eckhard Kassier geleer dat die gereguleerde landbou die swakkeres ondersteun en die sterkes ook swak maak.
Niks by staat nodig“Suksesvolle boere het niks by die staat nodig in terme van finansiële oordragte nie, maar hulle het ’n klimaat nodig wat sê hul grond is verseker en onregverdighede word hanteer. Dis ’n moeilike dink om aan swart opkomende boere te sê die staat moet hulle so min as moontlik gee, behalwe om ’n goeie klimaat te skep waar hulle met hul talente kan woeker.”
* Mnr. André Cloete is in 2013 deur Landbouskrywers SA bekroon as die Toetreder tot Kommersiële Boerdery van die Jaar. Hy is is een van dié boere wat 'n suksesverhaal van die Regering se strategie vir die verkryging van grond (Plas) is, maar soos vele ander ontwyk die besitreg op sy huurgrond hom.
Byskrif: Prof. Mohammad Karaan, mnr. André Cloete en prof. Johann Kirsten. Foto: Lucille Botha