
Só sê mnre. Kyle Durham en Dawie Maree, onderskeidelik hoof van alternatiewe energie-oplossings by FNB Kommersieel en hoof van landbou-inligting en bemarking by FNB Agribesigheid.
“Hoewel ons nog nie by die stadium is waar ’n betroubare alternatiewe energiestelsel uit ’n boer se daaglikse kontantvloei gefinansier kan word nie, is die koste nie meer so hoog dat dit as afskrikmiddel dien nie,” sê hulle in ’n verklaring.
Die meeste boere, ongeag die grootte of aard van hul bedrywighede, is hoogs afhanklik van elektrisiteit vir die volhoubaarheid van hul plase. Hulle het krag nodig vir onder meer besproeiingstelsels, verhitting- of verkoelingstelsels, temperatuurbeheer in pakhuise en die verwerking van produkte.
Boere se groot afhanklikheid van energie het dus die afgelope paar jaar weens verskeie redes ’n bron van beduidende en stygende risiko en koste geword.
Durham en Maree sê stygende energiekoste het dié deel van boerderye se insetkoste proporsioneel erg laat styg. Jare van onbestendige en onseker kragvoorsiening weens beurtkrag het baie boere se uitbreidingsplanne gekortwiek en die meeste gedwing om in kragopwekkers te belê, wat duur is om te koop en bedryf. Terselfdertyd is daar toenemend druk op boere om hul koolstofvrystellings te verminder en die moontlikheid van landboukoolstofbelasting.
Gelykspeelpunt nou vroeër
“Die goeie nuus vir boere is dat die evolusie van die alternatiewe energielandskap in Suid-Afrika en wêreldwyd in onlangse jare ’n betreklik eenvoudige en toenemend bekostigbare en haalbare oplossing bied.
“Voorheen het die meeste van die tipiese netwerkgekoppelde oplossings wat vir boere beskikbaar was, ’n beleggingsgelykspeelpunt van vier tot vyf jaar gelewer. Onlangs het ’n terugbetalingstydperk van minder as vier jaar algemeen geword en die interne opbrengs op hierdie alternatiewe energiebates is rondom 20%, wat oortuigende redes bied om in hierdie soort kostebesparende stelsels te belê.”
Durham en Maree sê die hoë koste van brandstof beteken byvoorbeeld dat ’n tipiese dieselkragopwekker ’n boer rondom R4 tot R5 per kWh sal kos. Vergeleke hiermee is die geëgaliseerde koste van energie van ’n sonkragaanleg met batterye gemiddeld R1,40 tot R1,80 per kWh.
Oplossings vir energie-opberging het ook baie ontwikkel om dit meer finansieel haalbaar te maak en innoverende oplossings in te sluit.
Danksy onlangse regulatoriese veranderinge rakende kleinskaalse opwekking kan oortollige energie wat opgewek word, aan die netwerk verkoop of “gebank” word om te gebruik wanneer die plaas se behoeftes groter is.
Durham en Maree sê die dwingendste rede vir belegging in alternatiewe energie in die landbou bly waarskynlik die potensiële kostebesparings.
Finansiering
Banke erken volgens hulle toenemend die langtermynwaarde van dié soort belegging deur boere en maak toegang tot finansiering makliker met oplossings wat vir boere se behoeftes ontwerp is.
“FNB verskaf nie net een finansieringsoplossing gegrond op tradisionele assesseringskriteria van kredietrisiko nie, maar beoordeel elke versoek vir finansiering van hernieubare energiebelegging volgens die individuele meriete. Dit sluit in dat die geskiktheid van die toerustingverskaffers beoordeel word, of betroubares wat die bank ken, aanbeveel word, die evaluering van die ontwerp van die voorgestelde stelsel volgens die geïdentifiseerde huidige en toekomstige behoeftes van die plaas, en die basering van finansieringsbesluite op toekomsvooruitskouings van kostebesparings, energiesekerheid asook die potensiaal vir ’n regstreekse gunstige uitwerking op bedryfsgroei op lang termyn.”