
Volgens mnr. Cian McClelland, uitvoerende hoof van Druids Holdings, is Druids een van die eerste maatskappye wat met ’n Australiese farmaseutiese maatskappy ’n ooreenkoms aangegaan het om medisinale dagga te lewer. Die ooreenkoms is ’n aantal jaar geldig. “Hierdie belegging van SilverLeaf sal ons help om die huidige leweringsooreenkoms van meer as 1 ton medisinale dagga per jaar met ons Australiese vennote te eerbiedig.”
Druids produseer onder meer CBD-olie en vervaardig ook cannabis- en fungus-verwante gesondheidsprodukte wat aan plaaslike en internasionale kleinhandelaars versprei word. Druids het in 2018 by Suid-Afrikaanse reguleringsowerheid vir gesondheidsprodukte (Sahpra) aansoek gedoen om ’n lisensie om medisinale dagga te produseer. Die lisensie is in Februarie toegeken.
Internasionale sertifisering
Druids het ook aansoek gedoen om en oudits voltooi vir sertifisering deur die Australiese owerheid vir terapeutiese produkte. “Ons wag vir ons nuwe H-VAC-lugversorgingstelsel om goedgekeur te word. Ons sal die eerste Suid-Afrikaanse maatskappy wees wat hierdie sertifisering ontvang. Hierdie sertifisering stel ons in staat stel om dagga van mediese graad na bykans enige mark ter wêreld, Europa ingesluit, uit te voer.”
Mnr. Pierre van der Hoven, uitvoerende hoof van SilverLeaf Investments, sê daar is steeds ’n groot geleentheid vir Suid-Afrika om wêreldleiers in die daggabedryf te word. “Suid-Afrika se infrastruktuur, klimaat, produksiekoste en -kennis is ideaal om daggaprodukte van hoë gehalte aan die internasionale mark te voorsien. Die pas waarteen wetgewing en regulasies aangepas word om die bedryf te bemagtig sal bepaal of ons hierdie potensiaal kan ontwikkel. Ons glo egter dat hierdie aanpassings wel sal gebeur en is dus reeds besig met onderhandelinge met beleggingsmaatskappye in die waardeketting om seker te maak ons benut en ontwikkel die potensiaal.”
SilverLeaf is ’n J12-fonds wat beteken dat enige belegging in SilverLeaf wat voor 30 Junie gemaak word, belastingvry is.
Navrae: Pierre van der Hoven, e-pos: invest@silverleafinvestments.co.za, web: www.silverleafinvestments.co.za